Gister het my dierbare Krulkopkleinkind my lekker laat nadink.

Ouma vra so dom vraag: Slaap jy nou lekker in jou eie kamer?
*Rukkie stilte*
Maar Ouma, hoe kan ‘n mens dan nié lekker slaap nie?
(Ek meen, as jy slaap, is dit mos in elk geval lekker?)

Ons as volwassenes het baie te leer van kleintjies. Dink ‘n bietjie oor die volgende gesprek, wat ek meer as ‘n jaar met terug met Krulkopkleinkind gehad het.

Hallo, Poplap!
Hallo Ouma!
Wat maak jy?
Ek praat mos met jou… (Hoe kan ouma sulke dom goed vra?)

Waar is jy? (Hoor vreemde agtergrond geluide)
HIER, ouma!

Waar is my oupietjie?
Wag net, ouma gaan soek hom gou.

Hallo, Poplap!
Hallo Oupa! Waar het jy weggekruip?
(Ouma moes hom dan soek?)

Ons as die sogenaamde volwassenes sê so maklik iets wat so ‘n kleintjie verkeerd kan interpreteer, omdat hulle dit wat jy sê aanvaar as dit wat jy bedoel. Hier is niks kos in die huis nie (Ek het ook nooit niks om aan te trek nie…)

Kom ek ook nou weer af op ‘n e-pos van verlede jaar van my dogter:

Ons het VREK koud gekry gisteraand, eers 6pm klaar uitgepak, maar toe is ons nou honger, nie een lus om te ry nie… en hier bars K in trane uit, baie ernstig snik sy “ons het nie kos nie, en ons moet winkel toe gaan, en nie een van julle wil bestuur nie, nou gaan ek moet bestuur en ek is te klein, die polisie gaan my vang en wat dan?” … ons het net daar ons baadjies aangetrek!!

Nou kan mens kinders blameer wat langs die pad deurmekaar en die pad byster raak?   As ons hulle van kleins af onwetend leer dat mens nie regtig bedoel wat jy sê nie?   Of regtig sê wat jy bedoel nie?

Advertisements