Meeste kleintjies het ‘n gunsteling storieboekie,  een wat hulle oor en oor en ooorrrrr wil hoor, totdat jy die storie uit jou kop uit ken. So het ons Krulkopkleinkind van kleins af elke keer Klein Pietie Muis gekies as dit storietyd is. Na elke vakansie is ek gereed om Pietie se pikante bekkie in ‘n muisvalletjie te snoer… Jy kan maar toestemming by haar kry om enige ander storie te lees, maar die oomblik wanneer jy dink jy is klaar, skuif sy tevrede reg, en sê, Nou Pietie Muis.

Nou Pietie is ook eintlik nou al ‘n bejaarde muis, want die boekie se inskripsie lui dat ouma MaanKind dit in 1962 gekry het… Die taalgebruik is effens oordrewe, maar die storie is steeds relevant.

Om nou aan te sluit by my vorige pos, het ‘n ernstige vraag van die klein klits my met haar mees onlangse besoek skoon winduit geslaan.

Ouma lê slaaptyd by haar in haar bed en lees aan Klein Pietie Muis (op haar versoek), toe sy my stop en baie ernstig vra: Ouma, lees jy vir my Klein Pietie Muis omdat jy dink ek wil dit graag hoor, of omdat jy dit vir my WIL lees?

Ek was sprakeloos oor hierdie vier-jarige insig.

Advertisements