Sleutelwoorde

, ,

Genade, dit voel of ek ‘n vakansie nodig het na ons vakansie in San Francisco. Na ‘n vlug van 32 uur (met 7 oorstaan-uur in Dubai) het ons die volgende oggend douvoordag vertrek op ‘n roadtrip van meer as 4000 km. San Francisco > Fresno > Yosemite National Park > Las Vegas > Grand Canyon > San Diego > Los Angeles > Kuslangs terug na San Francisco. En alles tussenin. Ons het stokflou na ‘n week weer tuisgekom in San Francisco by my dogter se huis, en na ‘n dag of twee se rondloop/ry in San Francisco, het ons weer die pad gevat na my dogter se plaas in Brown’s Valley. Nog ‘n 1000 of wat km, met al die ompaaie… As my boude nie so goed gepad was nie, sou ek soek vir eelte, na die lang vlug terug.

Dis sinneloos om te probeer vertel van die vakansie, dis eenvoudig net te veel. So ek gaan net enkele (baie subjektiewe) indrukke van (‘n klein stukkie van) Amerika en die Amerikaners gee (Ons was in California, Nevada en Arizona, heen en weer oor tydzones.

Amerika is ‘n skoon land waar alles werk. Paaie is silwerskoon, mense gehoorsaam reëls en niemand smyt goed rond nie. Mense ry almal dieselfde spoed, ons het geen verkeersknope ervaar nie, hoewel ons in spitsverkeertye gery het. Padwoede? Niks. Mense is beleefd en vriendelik. Oor 5000 km, het ons een enkele teken van ‘n ongeluk gesien,. ‘n man het hom misgis met ‘n muurjie en daarin vasgery. Ons het net een sirene gehoor, en dit was ‘n ambulans in Marysville (‘n pragtige aftreedorp!)

Alles is Good.
How are you? I’m Good!
Want some more? No, I’m Good!

Ek het net twee keer iemand hoor uitroep, Oh my gaaawd! En o ja, oral waar ons was, het ons seker die hardste gepraat. Is dit ‘n mite dat Amerikaners loud is?

Alles het suiker in. Baie daarvan. Brood ook. Pasteikors, noem maar op, dis soet. Die alleraakligste beef jerky (dit herinner glad nie aan biltong nie!) is sulke soet platgedrugte dun skyfies vleis wat proe soos mensvleis. Die gevolg? Ek het nog nooit in my lewe so baie oorgewig mense gesien nie. Hele gesinne. Kinders met koeëlronde gesiggies. Dis regtig vreeslik om te aanskou. Porsiegroottes is skokkend. Glase is 500 ml groot. ‘n Small van enige iets is te veel vir my. Ek het meestal van die voorgeregte in restaurante geëet, en dan was dit steeds soms te veel. ‘n Kids portion roomys (kleiner as small) is maklik 500 ml, selfs MaanMan het gesukkel om die kids portion op te eet.

Van restaurante gepraat, diens is eenvoudig uitstekend. Vriendelik ook. By elke plek waar ons geëet het, en ons het elke dag ten minste een restaurantmaal gehad, het ons uitstekende diens ervaar.

Kos en klere en karre en petrol is goedkoop. Salarisse is hoog. Minimum wages is 8-10 X wat dit hier is. Trèsemme sjampoo kos $3.99 (~R32) vir ‘n liter en Revlon Colourstay waarvoor ek onlangs R199 betaal het, kos $14.99 (~R120). Vir dubbel die grootte. Sickening. Kassiere en klerke kan huise en karre bekostig, en lekker eet.

Ja, ek kom elke keer moerig terug as ek sien hoe lewe mense in ander lande… Maar dan is die regering mi ook gedeeltelik verantwoordelik dat mense so lyk, by gebrek aan regulasies oor suiker in kos

 

Advertisements