Sleutelwoorde

‘n Gesprek op ‘n Facebook Groep oor die fliek, The Great Gatsby, het MaanKind laat terugdink aan een van die grootste skandestories van haar lewe.

Iewers in 1974 het die S G Lourens Nursing College (by die destydse HF Verwoerdhospitaal) sy 75e bestaansjaar gevier. As debutantes (die woord klink skielik so vreemd, wonder of dit ooit reg gebruik was?) moes ons voorbrand maak en publisiteit reël vir die Groot Dag wat ons vlotte deur die strate sou ry en ons geld sou insamel.

Nou ja – 1974. Rekenaars was nog nie eers ‘n woord wat ons geken het nie, en die internet was nog nie eers ‘n konsep nie. Nie een van ons het kontakte met die Hoofstad of die Oggendblad gehad nie, en hulle het hoogstens ‘n sinnetjie in die dagboekdeel belowe. Nou hoe maak ‘n klomp studentverpleegsters publisiteit? Op die enigste manier wat hulle ken. Trollies drips, kateters, hospitaalpajamas, verbande, stainless steel nierbakkies met instrumente. En waar sou die mense met die geld wees? In Sterland. By die première van The Great Gatsby. In hulle aandklere getooi, daardie jare het mens lang rokke en aandpakke gedra na so besigheid.

Vroegmiddag het ons al ons voorrade uit ons onderskeie sale geleen, en een van die portiere het gehelp met ‘n trollie. Een girl is in groen steeppajamas op die trollie lêgemaak, die dripstand daarop vas, en die drip is direk gekoppel aan ‘n katetersakkie, wat met pleisters vasgeplak is. Verbande en breë pleisters is vir effek deeglik aangewend.

My taak sou wees om ook in streeppajamas geklee, deur Sterland se teater te storm sodra pouse aanbreek (ja, flieks het pouse gehad om rolle om te ruil), met nog ‘n girl geklee as die nurse wat die pasiënt jaag, wat my dan sou agternasit. Ons sou dan die verstomde gehoor lei tot by die arme sieke op die trollie in die portaal, en dan sou daar plakkate verskyn wat ons viering sou adverteer.

Merk die woordjie sou? Dit alles sou net so gebeur het, as ons nie ‘n bietjie wou moedskep uit ‘n bottel Lieberstein nie. Sommer sulke slukke uit die bottel wat omgestuur is, in Beatrix Straat in die vriendin se Volla, waar ons gereed gesit het, geklee in die streeppajamas. Ek het moontlik te veel ‘moed’ geskep, want twee vriendinne het inderhaas my pajamas van my lyf af gepluk en vir iemand anders aangetrek, wat my rol moes oorneem, en ek wou net ‘n oomblik my oë toemaak. In hulle haas om betyds vir pouse te wees, het hulle nie haar klere weer vir my aangetrek nie, en ek raak toe (vol moed) aan die slaap. In Beatrix straat.

Dit was laaste wat ek onthou, en het die volgende dag toe die Ortopeed aan diens (ek het by Ortopedies ongevalle gewerk) vertel van die petalje van die klomp verpleegsters wat hulle so skandelik gedra het in die openbaar, net my kop geskud, en gemaak of ek van geen drip of skêr weet nie.

So het dit dan gekom dat julle tannie MaanKind een maanligaand nakend en vol moed in ‘n kar in Beatrix straat gelê en slaap het…

(Ter versagting – Daardie jare was dit veilig en het ons gereeld gaan ysskaats, en dan laataand terug gestap koshuis toe)

 

Advertisements