Sleutelwoorde

, ,

Lt Alexander Bruce wat in beheer was van die Irene Konsentrasiekamp

Lt Alexander Bruce wat in beheer was van die Irene Konsentrasiekamp

Dis maklik om te sê my voorsate het die Anglo-Boereoorlog geveg, nie ek nie. Tot ek toe netnou sien in watter tent my oupa se sustertjie waarvan ons nie geweet het nie, dood is. In die Irene Konsentrasiekamp, in Tent nommer RT 1793. Ek kan nie oordra hoe hierdie kennis my ontstel het nie, hoe absoluut seer ek van binne is en hoe ek nie kan ophou huil nie. Dis skielik vir my werklik, dis skielik my werklikheid. veral toe ek die foto sien van Lt Alexander Bruce, wat in beheer was van die Irene Konsentrasiekamp

Ek het elders vertel van my lewe as dogtertjie in die 1960′s. My ouma en oupa het by ons ingewoon, maar die groot plaashuis was verdeel, ‘n kombuis, sitkamer en slaapkamer vir ouma en oupa, en die res van die huis vir ons. Die koolstoof in ouma se kombuis was ook die plek waar ons ons stoele heen gesleep het op wintersaande, en oor en oor gevra het: Vertel van toe ouma en oupa jonk was. Dan het ons met stokkies in die vuur gespeel en geluister, oor en oor na dieselfde stories.

Oupa het graag vertel hoe hy as seun saam geveg het, en van sy hoed met die koeëlgaatjie in waar hy rakelings aan die dood ontkom het. Sy baadjie se moue het te kort geword gedurende die oorlog, en ek sien steeds die prentjie van die rankerige boerseun met die baadjie met driekwart moue in my kop. Hy het ook grusame verhale vertel van sy verblyf in die tronk as rebel (Na die 1914-Rebellie), en van die wurms in die sop. Dan ook hoe hulle later na die oorlog op die paaie gewerk het teen ‘n “sieling” ‘n dag om hulle plase weer te kon opbou. (1 Sjieling = 12 Pennies = 10 Sent)

Ouma se stories was meer hartseer. Sy het die oorlog as dogtertjie beleef, wat gehuil het oor haar poppie, wat die Engelsman gegryp het en in die vuur geslinger het, en hoe hulle moes staan en kyk hoe hulle plaashuis met alles daarin, in vlamme opgaan.

Wanneer ouma se oë sonder uitsondering vol trane geraak het, en haar stem gebewe het, is elke keer as sy vertel hoe die “Ingelsman haar katjie gegryp het en aan sy agterpootjies geswaai het, en sy koppie teen die muur papgeslaan het. Dis dan ook hier waar my ma sonder uitsondering my ouma gemaan het om nie sulke stories vir die kinders te vertel nie. Maar ons wóú hoor, en dan het ons met bewende kniegies gesit en grootoog geluister. Sy het ook gesê ek is haar naamgenoot en moet weet van die dinge.  (Sy het darem ook baie vertel van die vryersklonge wat met hulle wit broeke kom opsit het, en van haar goue vlegsels waaraan die seuns seuns so graag wou vat.)

MaanKind, oftewel Trisa Hugo, ook bekend as Heila Levina Etresia Hugo, (voorheen Janse van Rensburg, gebore Pretorius). Kleindogter van Heiletje Levina Etrecia Pretorius, gebore Erasmus, en Johannes Lodewickus Pretorius.

Advertisements