Vanoggend het ek vroeër as gewoonlik wakker geword, en het deur die newels Facebook op my foon oopgemaak. Wat ek daar gelees het, het my wakker geskok:

Groot hartseer … ons Gerimed Ouetehuis hier in Kleinmond het vanoggend 1 uur grootliks afgebrand. Die woonstel op die punt (links) op hierdie foto is ek en Maraaitjie s’n – hy het nie gebrand nie maar is vol rook. Ons inwoners is algar in ons pajamas in die aftree-oord se ontspanningsaal. DIE GERIMED PERSONEEL WAS ABSOLUUT PUIK MET DIE ONTRUIMING!! Ongelukkig was daar ook lewensverlies, een tannie van 90 het nie oorleef nie.

Dit voel vir my hier is deesdae soveel meer brande, in 50 jaar het ek van geen brand geweet van iemand na aan my nie, maar dit voel vir my of hier iets in die lug is met brande vandat ons gesien het hoe ons plaaslike hotel afbrand.

Ons het die verskriklikste veldbrande verlede jaar hier gehad. In ons dorp het ‘n paar huise al afgebrand, en vanoggend nou die.

Gister is daar twee kindertjies doodgebrand in ‘n huis. Nog twee seuns brand in Hartbeespoort dood

My sus en medeblogger Slakkelak, se huis het twee maal binne ‘n jaar afgebrand. Lees daarvan:

http://slakkelak.wordpress.com/2012/02/16/buig-jakoba-buig/

http://slakkelak.wordpress.com/2011/09/06/om-dankie-te-se-is-nie-altyd-maklik-nie/

In sulke tye vat mense hande, en waar hulp nodig is, word dit gegee. Maar wat vir my nogal traumaties was van die hele ding, is dat ek besef dat, al raak nie een van hierdie traumas my direk nie, gaan sit elke stukkie skrik iewers in ‘n mens se lyf vas. Dis of daar speldeprikke van binne af kom, en elke stukkie seer van elke brand gaan sit bo-op die ander. Hoe op aarde voel daardie arme oumense vanaand? Stel jou voor, die laaste wat jy doen, is om jou tande en jou brille en jou gehoorstukkie uit en af te haal, en eerste wat jy sien is as iemand jou uit die bed boender, en as jy tot verhaal kom, sit jy saam met die ander oumense, met net die pajamas aan jou lyf,  as jou enigste besitting? En jou bors trek toe van die rook?

Stuur asseblief vandag goeie gedagtes vir hierdie oumense, dat die skrik hulle nie siek maak nie. Want nie net is al hulle kleinste ou herinnerinkies wat hulle nog oorgehad het nou weg met die wind nie, hulle is ook uitgelewer aan die onderklere en klere wat ander inderhaas gaan koop het, wat dalk sleg pas.

Wat ek by my bydrae gevoeg het, was die sagste serpe wat ek kon kry, vir elke tannie en oom wat nie kinders naby het nie. Laat ons almal se gesamentlike liefde met die serpe saggies om hulle vou in die volgende tyd.

Advertisements