Sleutelwoorde

,

Al is hy nou in die Hemel waaraan hy geglo het, verjaar hy steeds, want sy kinders onthou hom met liefde, en my ma bak sekerlik ietsie daar in haar kombuisie in die aftreeoord.

Sus Magda sê: My pa sou vandag 87 jaar oud gewees het. In die laaste jare van sy lewe, was daar drie dinge wat hy graag wou bereik. Hy wou 80 jaar oud word, 50 jaar getroud wees en wou graag ‘n agterkleinkind hê. Deur die genade en teen ons menslike verwagting, het hy dit alles beleef. Sy gesin was sy trots, sy alles. Ek mis hom vandag, en is ook diep dankbaar dat hý my pa was, anders was ek nie ék nie.

Self het ek verlede jaar op Vadersdag oor hom geskryf, so vandag plak ek die teks wat sus Slakkelak geskryf het. (Ek plak dit, omdat ek dit graag in my eie argiewe ook wil hou, en as jy wil weet wie is MaanKind, Slakkelak en Amipatat en waar kom ons vandaan, lees verder – en dankie Kobie vir jou kallertjie waarmee ek kan ploeg)

Vadersdag is altyd naby my pa se verjaardag en ons kinders en ma verlang al die hele naweek na hom. Toe hy geleef het, was dit sommer as ‘n twee-in-een dag gevier. Vooraf het hy altyd gesê ons moet tog niks spesiaal doen nie, maar was dan kinderlik bly vir elke present wat hy gekry het, en het gestraal van al die aandag.

Teunet het spesiaaal Saterdag ‘n lemoen vir hom geskil – soos hy ons almal geleer het. Netjies kop en stert afgesny (sonder om deur die vleis te sny) met ‘n SKERP knipmes en dan mooi snytjies in die lengte en versigtig afgeskil. Die wit moet ALLES afgetrek word, en eers dan kan jy hom eet. Magda sou graag vir hom ‘n voorslagriempie wou vashou wat hy met daai einste vlymskerp knipmessie uit sy eie gebreide velletjie sny. Hy het egter altyd gesê Teunet hou die beste vas. Trisa het ons herinner om nie te vergeet om elkeen ‘n aartappel te skil nie, met daai selfde knipmessie het hy al wat ‘n aartappel is kafgedraf… en ELKE keer vir ons gepreek wanneer ons gehelp het, want ons het volgens hom die helfte van die aartappel weggeskil.

My pa was ‘n stoere Boere-oom. Sy grootste trots was sy spannetjie kinders – sewe dogters en einde ten laaste ‘n seun, die appel van sy oog. Hy het gedroom daarvan om tagtig te wees, en sterf net ‘n paar maande daarna ‘n gelukkige man.

Pa se 80e verjaardag – ‘n hoogtepunt in sy lewe en trots in sy baadjie en sy hoed

Johannes Gottlieb Pretorius is gebore op 18 Junie 1925 in Boegoepan, die jongste seun van vyf. Een broertjie (Willie) is as baba dood, en een (Martiens)nas tiener. Die familie vestig hulle later in Elandskraal, toe in Marikana en daarna weer in Boegoepan. Familie was altyd vir hom baie belangrik, en hy en sy broers was baie na aan mekaar. Dis een van die dinge wat hy aan ons nagelaat het: familie is kosbaar…

Ek onthou as kind die vreeslike erns wanneer die drie broers hulle belastingvorms ingevul het by ons huis. Dan moes ons kleintjies maar bontstaan, want belastingvorms was ‘n ernstige besigheid!

Die bejaarde broers, Bertus, Lood en Hansie

Pa was ‘n baie intelligente mens met baie talente. Sy aanleg was syfers, en hy was in ‘n Handelskool.

Na matriek het hy gaan werk in ‘n finansiële rigting, want geld vir studeer was daar nie. Sy ouers is van Boegoepan af na Rooikoppies naby Brits waar hulle ‘n plot gehuur het. Hy en sy pa koop toe ‘n plot by Langberg in die distrik Brits en díé oorreed hom om saam met hom te gaan boer op die lappie grond. Hy, oujongkêrel, saam met sy ouers in die huis. Persoonlik dink ek dit was die grootste fout van sy lewe. Ek dink verseker dat  hy ‘n uitstekende ouditeur of bankbestuurder sou kon wees.  Maar ‘n Man moet boer…  Hy het egter sy beste gegee maar was nie tegnies aangelê nie en nooit regtig ‘n landbouboer nie. ‘n Boer, ja. Afrikaner in murg en been.

Die pot het uiteindelik ‘n deksel gekry – Anne Winnertz, ‘n pragtige jong dame nege jaar jonger as hyself.

Kosbaar om my ouers so saam te sien. So deftig.

Dol verlief

Troudag – 27 April 1954

Pa het baie sterk leierseienskappe gehad, en mense uit die gemeenskap het opgekyk na hom, al was hy ‘n finansieel arm man. Wanneer hy gepraat het, het almal geluister. Wat hy ook al gesê het, was sonder twyfel en met gesag. Vas in opinie, nie vandag so en môre sus nie…  ‘n Rots, vir die familie en vir die gemeenskap.

Mens kon maklik die indruk kry dat hy hardkoppig is nie na jou opinie luister nie, maar hy het tóg. Onder die harde dop was hy ‘n baie sagte man. Vir hom was redeneer, hoe sag ook al, stry. En dis lelik om te stry. Een so ‘n voorbeeld was toe ons so paar jaar terug ons plasie in Barberton gekoop het. Ek het baie opgewonde vir hom gaan vertel van die mooiste, mooiste bokkies op die plaas – rooiduikertjies. Hy het klaar geluister, en toe vir my gesê ek is sommer laf. “Mens kry nie sulke goed soos rooiduikers nie, net gewone duikers en blouduikers.” is ek meegedeel. Ek het maar net stilgebly. Mens stry nie met jou pa nie.

Na ek weg is het hy my ma opdrag gegee om ‘n boek te gaan soek met foto’s van hierdie rooiduikertjies waarvan ek praat. Aan my is egter nooit weer ‘n woord gerep oor rooiduikertjies nie, veral nie die feit dat ek iets van die veld geweet het waarvan hy nie kennis gedra het nie. Die één keer wat hy kon kom kuier op die plaas, het hy sy stoel staangemaak in die sonnetjie voor die venster waar ek vir hom vertel het ons telkens die rooiduikertjies sien wat kom wildevytjies eet. Ek sou soooo graag wou hê hy moes enetjie sien… en elke keer wanneer ek een van my spesiale bokkies sien, dan dink ek aan hom.

Pa was musikaal aangelê met ‘n pragtige sterk stem en was vir baie, baie jare die voorsanger in die kerk. Voorsangers het mos die noot ingesit in die jare voor die kerke orrels kon bekostig. As kinders het hy ons die toonleer geleer op die ou manier – do, re, me, fa, so, la, ti, do… Nie op ‘n instrument nie, hy het dit gesing en ons agterna. Eers op en dan af. In sy Psalmboek was al die Psalms met die note gemerk volgens do, re, me. As jongman het hy die banjo in ‘n klein orkessie gespeel, maar vir een of ander rede het hy dit weggepak. Tog onthou Annemarie dat hy haar daarop leer speel het, Rik-rak en Anna Panna. Beide het net twee note en hy het dit vir haar as kort en lang strepies geskryf.  Sy ouers het by ons in die huis gebly en my ouma kon pragtig mondfluitjie speel. Na haar dood het ek altyd ‘skelm’ daarop gespeel totdat my ma dit vir my gegee het. Asof mens nou skelm op ‘n musiekinstrument kan speel… Ek is die vyfde kind, en dit het finansieel baie beter gegaan toe ons ‘kleintjies’ kinders was en hy het vir ons ‘n orrel, kitaar en melodika gekoop om ons musiektalente te stimuleer. In ‘n mate dink ek dit was vir homself wat hy graag wou hê, want ons het nooit gevra daarvoor nie.

Ons het maar baie arm groot geword, en ek dink dit was maar finansies wat hom laat afstand doen het van die dinge wat geld gekos het om te doen wat vir hom lekker was. Nooit, ooit het hy gekla of iemand verwyt daaroor nie. Hy het net sy lewe gelewe en vir sy gesin gesorg die beste wat hy kon. In eerlikheid en sonder skuld. Óns was sy rykdom.

1966, met Ouma en Oupa Pretorius se Goue Bruilof. Hierdie foto is vir my baie belangrik, wat dis die eerste foto van my en ek was net oor ‘n jaar.

1 Jan 2000 – ons familie vier die aanbreek van die nuwe millenium saam. Namate elkeen koers gekry het die lewe in, het afstande tussen ons groter geraak en dit het al hoe moeiliker geword om almal gelyk op ‘n foto vas te vang.

Trisa vertel dat hy ook sokker gespeel het toe hulle klein was. Hy was ook deel van ‘n toneelgroep, iets wat ek my nie eintlik kan voorstel nie, want hy was so ‘n ernstige mens sonder fieterjasies, maar hierdie foto bewys wel die waarheid daarvan.

Lid van ‘n plaaslike toneelgeselskap.

My eerste herinnering aan my pa is toe ek so tussen twee en drie was. Hy het rieme gebrei en het altyd die klip net so effentjies opgewen en ons dan bo-op laat sit en dan draai ons lekker rondtomtalie. Wanneer hy die rieme nou regtig opgedraai het moes ons wyd staan sodat ons nie in die klip se pad is wanneer dit afwen nie.  Verder onthou ek eenkeer het ek weggeloop lande toe agter hom aan, en het eers vreeslik raas gekry en toe het ek saam op die trekker terug huistoe gery. Magda is gebore toe ek vier was en ek onthou dat ons Vêr Ouma my ma kom help het met die huis en ek toe alleen saamgery het Swartwater toe om haar huistoe te vat. Sy het melk in ‘n inmaakfles gegooi vir my vir die pad.

Buiten sy blokkiesraaisels was swepies maak al wat hy gedoen het namate hy oud geword het. Hierdie swepies was gemaak van die velle wat hy nog self gelooi het.

Gedurende die laat sewentiger jare het hy finaal opgehou boer en die landerye begin verhuur. Hy moes gaan werk om te oorleef, skuld maak by die Landbank was nie deel van sy lewenswyse nie. Alhoewel dit vir hom ‘n bitter ding was het hy later besef hoe groot seën dit eintlik was, want toe het hy aangesluit by ‘n mediese fonds. Dít en sy pensioen is my ma se redding vir goeie versorging vandag. Hy het egter begin onttrek by gemeenskapsbetrokkenheid en in ‘n groot mate van LEWE self.

Een van sy laaste blokraaisels. Die potlood het gebewe, maar sy verstand nie.

Toe ek in standerd ses (nou graad agt) was het hy ‘n hartaanval gehad, ‘n ander keerpunt in sy lewe. Ek sê altyd my pa was oud gebore. Dis maar hoe ek hom onthou, want saam met ons kleintjies het hy nie veel tyd spandeer nie. Op ‘n dag tydens my standerd nege jaar wou ek, balhorige tiener, opsluit nie saamgaan na ‘n troue in die omgewing nie. Ek het net gevoel dat ek nie die bruid regtig persoonlik geken het nie, en na ‘n groot rusie met my ma het sy my maar by my pa laat bly. Toe reeds het hy net in sy stoel gesit en blokkiesraaisels invul. My koppigheid was voorbestem as sy redding, want hy het ‘n beroerte gehad daardie middag en ek kon op die plaastelefoon ‘n boodskap uitkry by my ma dat sy dringend moes huistoe kom.

Hierna het hy homself nog meer en meer van die gemeenskap onttrek en sy toevlug tot sy stoel en sy blokkiesraaisels gewend. Die blokkiesraaisels het sy verstand skerp gehou tot met sy dood, so dit het darem ook ‘n goeie doel gedien.  Hy was links maar was as kind gedwing om regs te skryf in die skool. Hy kon toe ewe goed links en regs skryf. Na die beroerte was sy regterkant swak en het hy slegs links geskryf. Die laaste tyd het hy vreeslik gebewe, maar steeds sy blokkiesraaisels sonder die hulp van ‘n woordeboek voltooi. Wat altyd vir my interessant was, is die feit dat sy handskrif nie verskil het van linkerhand na regterhand nie!

Des 1991 – vir my is dit seker een van die mooiste foto’s van Ma en Pa

In Januarie 1995 het hulle die plot verkoop en ‘n meenthuis in Centurion gekoop, met drie van die sussies binne ‘n vyf kilometer radius. My hart was baie seer toe ek nie saam met die res van die familie die laaste totsiens kon doen by die plot nie, ek was in die hospitaal vir ‘n histerektomie. Die sussies vertel dat hy nog voordat alles regtig klaar gelaai was in die kar gaan klim het, en gewag het om te ry. Sonder om sy emosie te wys. Net gewag dat hulle moes klaarkry. Hoe verskriklik sterk moes hy hom nie gehou het nie…

‘n Paar jaar later het dit vir my soos verraad teenoor Pa en Ma gevoel toe ons weggetrek het om op ons eie stukkie grond in die Laeveld te kom woon wat maar weer óns droom was. Hulle was destyds een van die redes waarom ek nie wou emigreer Amerika toe nie, Roelf het ‘n goeie werksaanbod gehad. Vandag is my gesin spyt dat ons gebly het.

Hy het tóg soms in ‘n onbewaakte oomblik ook van erns vergeet en die hare laat hang…

‘n Paar keer het Pa ons groot laat skrik. ‘n Paar keer was hy só siek in die hospitaal dat die dokters gesê het ons moet kom groet. Hy sê hy was bewus van elkeen wat kom groet het en kon onthou wat elkeen gesê het. Hy het versoek  watter dominee sy begrafnisdiens moes lei, wat gelees moet word en wat gesing moes word. Sy plekkie in Krokodilrivier se begraafplaas buite Brits was lank reeds bespreek en betaal. Maar hy het geen plan gehad om te gaan nie, hy het geweet dat dit nie sy tyd was nie het hy ons later gesê, hy was net baie siek. En buitendien, hy beplan nie om in die hospitaal dood te gaan nie. Want sy tagtigste verjaardag en hulle Goue Bruilof moes nog kom… Dit was sy grootste, grootste wens.

Dierbare, sorgsame Ma het hom elke keer by die huis gepamperlang en versorg soos GEEN versorgingsoord ooit sou kon doen nie. Liggaamlik het hy meer as een keer sy lewe te danke gehad aan haar liefdevolle versorging.

Op ‘n keer het hy saam met Magda Rustenburg toe gery. Oppad het hulle verby ons ou omgewing gery en sy woorde “Totsiens ou Langberg, jy is nou tog niks meer van my nie…” was sy laaste groet aan ‘n vergange lewe.

27 April 2004 – Goue Bruilof vir Ma en Pa

80 jaar! My ma het kort voor dit haar 2e breingewas verwyder, daarom die kort stekel hare. Net Heleen kon nie hier wees nie.

Na die Goue Bruilof en sy tagtigste verjaardag het hy oor ander dinge begin praat wanneer ons van sy volgende verjaardag praat. Sommer weggekyk en jou goed laat verstaan jy beweeg nou op verbode terrein. Ek kan nie sê dat hy opgegee het nie, hy het homself nie doelbewus verswak soos baie oumense doen nie, hy was net tevrede dat hy sy lewensdoelwit bereik het. Hy wóú niks meer hê nie, hy wóú nie nog ‘n keer verjaar nie.

Elke keer wanneer ons gaan kuier het, het ek met trane gegroet.

Hy en sy oudste broer Bertus was die laastes wat oorgebly het en hulle het die laaste tyd vir ure net bymekaar sit. Sonder om ‘n woord te sê. Dit was aandoenlik om so hulle bymekaar te sien.  Oom Bertus het eenkeer gesê: “Ek wou graag oud word, maar ek het nou nie bedoel SO oud nie!”

Ouboet Bertus en Kleinboet Hansie. Oom Bertus het die langste geleef, hy het sy ma belowe dat hy na sy broers sal kyk, en hy het.

Nov 2005, laaste hospitalisasie

Toe hy daarna siek geword het, het ons geweet hy gaan nie weer veg nie. Maar hoe verkeerd kan mens tog wees! Hy hét geveg… hy het geveg om huistoe te kon gaan. Hy wóú nie in die hospitaal sterf nie. In die hospitaal het hy een dag afskeid geneem van Ma. Nie in woorde nie, maar met sy siel in sy oë. Daardie dag mag sy nie uit die stoel voor sy bed beweeg het nie. Te swak om te praat het hy net vir haar gekyk. Net vir haar. Sy oë was nie ‘n sekonde op iets of iemand anders nie. Gefokus. Totsiens my geliefde, totsiens my lewensmaat…

Vir oulaas kon ons almal op een dag by hom wees in Nov 2005. Voor: Hannes en Kobie. Middel: Ma, Heleen en Pa. Agter: Trisa, Teunet, Magda, Annemarie en Drinie

Met sy tuiskoms was haar hart telkens seer wanneer hy haar net soos enige ander versorger behandel het, onbetrokke gedoen wat gevra word, toegesluit vir enige emosie.

Pa het ‘n eenvoudige lewe gelei, maar sy afskeid van hierdie wêreld was groots. Ekself was nie daar tot die laaste uur nie, maar het ‘n deel daarvan beleef en sy vertrek is iets waaroor ‘n mens MOET getuig.

Ek was in daardie tyd in die Nasionale ‘Squad’ vir  boogskiet en was Januarie 2005 by die High Performance Centre (HPC) van Tukkies vir ‘n kursus.  Toe die sussies laat weet die einde is naby was ek verskoon by die kursus. So was dit vir my voorbestem dat ek hom kon gaan groet, want Barberton is ver van Pretoria af in geval van nood.

Sy oë het verhelder toe hy my gesien het. “Haai, is jý ook hier?” was sy woorde, maar nooit het hy werklik ‘n aanduiding gegee dat hy weet wie ek is nie. ‘n Paar jaar later het sy ouer broer my met presies dieselfde woorde, met presies dieselfde stemtoon gegroet toe ek hom besoek het, en hy het weens Alzheimers nie die vaagste benul gehad van wie ek was nie. Dit maak nie vir my saak nie, al het Pa my dalk nie geken nie, ek het hóm geken!

Magda het vertel dat hy van die vorige dag al heeltyd gepraat het asof hy iewers heen moes trek. Hy het gevra of sy nie maar kan gaan vra of hy nog één nag hier kan slaap voordat hy vertrek nie. “Natuurlik, Pa. Pa mag bly solank Pa wil.” Maar een nag was genoeg vir hom… en hy het gesê hy gee nie om om te gaan nie, en hy gee ook nie om as hy by iemand moet oorslaap oppad nie, solank hy net nie by die Naude’s hoef oor te bly nie. Dit het hy meer as een keer gesê. “Asseblief, net nie by die Naude’s nie.” Niemand het geweet wíé die Naude’s is waarvan hy gepraat het nie. My ma was ook nie bewus van enige iemand uit sy verlede met daardie van nie.

Toe daar nie uriene in sy kateter uitskei nie, het ons verstand geweet wat dit beteken, maar ons harte het geglo dat ons maar ‘n medikus moes probeer kry, dalk was die kateter net verstop. Die verpleegster wat my ma die laaste paar weke gehelp het was van diens af en hulle eie huisdokter was ‘n paar kilometer weg . Ek en Magda het na die naaste praktyk gery. Dit het erg gereën, in so ‘n mate dat die groot wielietjie-asblikke in die straat afgespoel het. Die kateter was nie verstop nie…

“Waar is my baadjie en my hoed?” wou hy kort-kort weet. “Ek moet netjies wees wanneer ek moet gaan. Bring my kierie ook, ek gaan hom dalk nodig kry.” Ons het sy kosbare dinge gaan haal en so gesit dat hy dit kon sien.  Vir my het hy gevra: “Ek sien dis reënerig buite, dink jy ek moet my sambreel ook vat?” waarop ek gesê het “Ons sal kyk as dit nodig is Pa, ons sal hom solank uithaal.” Dit was vir hom sy lewe lank belangrik om netjies te wees wanneer hy êrens heen moes gaan. Sy baadjie en sy hoed, en later jare het sy kierie by gekom.

Dit was swaar om te groet en weg te ry, en te weet dis nou regtig die laaste keer.  Vroegaand het hy die laaste keer gepraat, vir Annemarie gevra om vir hom ‘n sigaret op te steek, wat hy maar net in sy hand vasgehou het. In die na-nag het hy hard en duidelik “Ja” en weer ‘n keer “ja” gesê, asof hy iemand baie oortuigend geantwoord het.

Vroegmôre was sy asem weg.

Sy deur was oop toe ek daar gekom het. Ongestoord kon elkeen ingaan wat wou, totdat die begrafnisondernemers hom kom haal het. Die agentskap in Pretoria het hom dieselfde dag Brits toe geneem waar sy wens was om heen te gaan. Laatmiddag het my ma die papiere deurgekyk. Sy het wasbleek en bewend haar vinger op hulle papier gedruk. “Naude. Die Avbobman van Pretoria is Naude!”

Sy eie begrafnis het hy fyn beplan. Soos ek netnou gesê het, was die dominie en begraafplaas lank reeds gereël. Hy het vir Magda ‘n lys laat opstel van wat gesing moes word en wie wat moes doen. Vyf sussies en ons boet is elk presies ‘n plek toegedeel waar hulle moes dra aan sy kis. Hierdie een by die kop, hierdie een by die voete. Hierdie een links, hierdie een regs; en ek en Teunet moes my ma ondersteun.

Jy was ons rots…

Pa, ons het nie vir Pa in Pretoria begrawe nie. Pa hoef nie by die Naude’s te gebly het nie. Vir oulaas het ons Pa se wens gevolg met die dra van Pa se kis. Vir oulaas het Pa se woord gegeld.

Ek wou nie na die kerksaal gaan om toebroodjies te gaan eet nie. Ek wou nie. Toe gooi ek ‘n grafie sand op die kis. En toe nog een en nog een en nog een.  Van die mans het hygend op die grawe gesteun, dan gooi ek nog. Want ek was fiks, veral my skouers en my rug was goed ontwikkel van die baie boogskiet. My hele lewe lank het my pa geglo ek is klein. Klein en swak. Later toe ek daaraan dink… om hom toe te gooi – miskien wou ek in my onderbewyssyn ‘n laaste keer bewys dat ek is nie klein en swak is nie?

Pa. Dankie vir die voorbeeld wat Pa gestel het met Pa se lewe. Ons verlang na Pa, maar ons weet dat Pa tevrede gegaan het. Pa se afskeid van hierdie lewe was so mooi, Pa se oorgang was met soveel grasie. En ek weet nou meer as ooit dat daar ‘n  Lewe is ná hierdie lewe, dis nie meer vir my net ‘n abstrakte aanvaarding van my geloof nie.

Totsiens Pa, tot ons mekaar weer sien…

**********************************************************************

It’s clear that most children suffer too much mother and too little father.
– Gloria Steinem

When I was a boy of fourteen, my father was so ignorant I could hardly stand to have the old man around.  But when I got to be twenty-one, I was astonished at how much the old man had learned in seven years.
– Mark Twain, 1835 – 1910

If the new American father feels bewildered and even defeated, let him take comfort from the fact that whatever he does in any fathering situation has a fifty percent chance of being right.
– Bill Cosby

When I was a boy I used to do what my father wanted. Now I have to do what my boy wants. My problem is: When am I going to do what I want?
– Sam Levenson, 1911 – 1980

Met watter een kan jy assosieer?