Sleutelwoorde

Noudat my kleinsus en haar gesin vandag vliegtuig vat vir ‘n lekker reis deur Europa, vat dit my terug na 2005 toe ek en my dogter  Parys aangedurf het, gewapen met padkaarte en gidsboeke, warm jasse en musse. Ons het vooraf ons huiswerk deeglik gedoen en baie aande op die Internet rondgerits op soek na inligting. Vriend en vyand se raad is aangehoor, waarvan ons die meeste in die wind geslaan het, natuurlik. Ons wou sélf al hierdie goed gaan beleef!

Die een stukkie raad wat ons nie kon ignoreer nie, was die een oor taal, want een en almal was dit eens: Moenie eers probéér om Engels te praat nie, praat liewer Afrikaans. Dit het vir ons vreemd geklink, want oral waar ons dan nog altyd in die wêreld was, kon ons geholpe kom met Engels, het ons gedink. Maar dit het wel agterna behoorlik sin gemaak,.

Sommer met ons aankoms op die Charles de Gaulle-lughawe het ons ons al vasgeloop – al die inligtingsborde was slegs in Frans. Die dames by die inligtingstoonbanke was nie meer so vriendelik teen die tyd dat die laaste vlug vir die aand, na ‘n vertraging van twee uur, daar opgedaag het nie. Hulle Engels was beperk tot die swaai van ‘n vinger, en selfs ons beste “Bonjour Madame” het geen indruk gemaak nie. Ons het darem blitsvinnig vir onsself uitgewerk Sortie beteken uitgang. Agterna eers daaraan gedink: die feit dat ons British Airways gevlieg het, het ook nie gehelp met die Franse se vooroordele nie!

Na ‘n ver ent stap en ‘n yslike gesukkel het ons met behulp van gebaretaal van ‘n laataand-skoonmaker ons pad tot by die trein gekry, wat ‘n nuwe gestoei afgegee het om die regte kaartjies gekoop te kry. Ons het maar vasgebyt, en vasgestaan, ferm en vriendelik, totdat ons elk met ‘n Orange kaart in die hand gestaan het. Ons het nie verniet vooraf al die inligting ingesamel nie … Dit is op hierdie punt waar my dogter botstil gaan staan het; sy het lekker gelag toe sy sê: “Ma, nóú verstaan ek hoekom Ansie [‘n gesoute reisiger] na drie ure se sukkel om uit hierdie bleddie lughawe te kom op haar tas gaan sit en huil het …” Teen daardie tyd was ek verbitterlik dankbaar vir my dogter aan my sy – net daardie medesuster in verdrukking was al wat nodig was om oor die situasie te lag pleks van te huil!

Danksy ‘n vriendelike jong Brit was ons darem gou-gou op die regte trein, en vandaar op die Metro wat ons vlak by ons hostel sou kry. Die kind was so gaaf, hy het ons bagasie bo-oor die hek getel, ons tasse was te breed vir die deurloophekkie, en die syhek was al gesluit vir die aand.

Dit was oral baie duidelik dat al die waarskuwings heel tereg was – die Franse hou net nie van Engels nie en klaar, en hulle wys dit baie duidelik. Alte gou het ons ‘n onfeilbare sisteem uitgewerk – ons gooi ons vriendelikste “Bonjour Madame”, kyk dan hulpeloos vir mekaar, en praat vinnig met mekaar in Afrikaans. Hulle vra dan blitsvinnig in gebroke Engels, met behulp van allerhande gebare, of ons altemit Engels verstaan, en met baie handgebare vervolmaak ons dan die blond act: “Only a leeetle bit …” Dis nou met so ‘n skeefgetrekte gesig en duim en wysvinger wat amper by mekaar uitkom.

Hier loop ek in die stgies in Montmatre

So kon ons darem meestal ons sin kry en al ons inkopies afgehandel. Die onvriendelikheid van die verkoopsman in die winkel waar hulle verlede jaar se ontwerpersnommers teen ‘n fraksie van die prys verkoop, het ons al lankal vergeet, maar die rok hang steeds in my kas. Dit lyk steeds of hy gister gekoop is, met onsigbare nate en ritssluietr.

Hierdie rok sal so lank ek lewe, ‘n glimlag na my gesig bring. Party winkels daar het mos nie aanpaskamers nie – die aanname is klaarblyklik dat die klere so goed gemaak is, as jou nommer reg is, pas dit. Of altans, so het ons verstaan van die man se gekopskuddery en gebare. Hy was baie ferm, slegs een rok in elke grootte, verskillende style of te not. Ek weet ook nie eers wat beteken ‘n Europese nommer 40 nie; dit klink groot, maar het gelyk of dit sal pas. Nou, ek vat nie kanse met my boereboude nie, en tot my dogter se ontsteltenis het ek eenvoudig in ‘n hoek van die winkel gaan staan en uitgetrek en aangepas. En voila, die eerste rok pas of hy werklik aan my lyf gesny is! Die man het my geld so vieserig aangevat, asof daar iets aan kleef, en my pakkie ewe fyntjies-vies geknyp tussen twee vingers aangegee.

Ten spyte van my dogter se ontsteltenis oor haar dikvellige moeder kon sy ook maar net lag oor die absurde situasie en het so twee winkels-sonder-aanpaskamers later lustig meegedoen aan die openbare spektakel.

Supermarkte was darem maklik: jy kyk wat kos ‘n ding, vat dit en betaal daarvoor, en taal speel geen rol nie, so die koskopery was darem makliker, en met vol magies was ons doodtevrede met ons vakansie, taalprobleme of te not.

Maar was dit nou lekker om in Kaapstad aan te kom en ‘n vriendelike rooikopseun by Doeane kyk so na my paspoort en sê: “Welkom in die Kaap, Tannie.” Ek dog ek soen die kind!

Advertisements