Things just are. Ons lees dit, ons hoor dit, maar ons glo nooit hoe ons eie subjektiewe siening van ‘n saak ‘n ding anders kan laat voorkom nie. Hoe ons persepsies ons oordeel kleur nie.

‘n Ruk gelede het MaanMan klippe van die see af aangedra om op die sypaadjie te pak, om te verhoed dat die bouers langsaan hulle sementmenger daar trek en met kruiwaens deur ons blommies loop. Die skade van die vakansiegangers se onbedagsaamheid met hulle honde was immers skaars herstel. Die wit klippe lyk toe so mooi, ons los dit toe daar en die blommies herstel te pragtig. Nou kan die dogtertjie van skuins oorkant weer haar blommetjies so in die verbygaan kom pluk. Maar toe sien ek waarom alles so mooi herstel het. Dis mooi ‘n beneukte ou man wat dit oppas!

Die beneukte ou man op ons sypaagjie in helder oggendlig:

Dieselfde ou man, lyk in laatmiddaglig nou meer hartseer, met ‘n doek oor die oë getrek.

Intussen is dit maar dieselfde klip wat al vir maande lank daar staan, en nog nooit ‘n gesig gehad het – tot onlangs nie. Moes ek dalk herinner word aan persepsies van die lewe, van mense?

Ek vermoed hy gaan van more af weer net ‘n klip wees…

Advertisements