My hard is in twee geskeer vandag (Met apologie aan ‘n blonde agtjarige pop).

Tyd is kosbaar, maar net vir vandag, wens ek net ter wille van my familie, dat hierdie dag vinnig omgaan.

My familie gaan deur uiterste trauma, waarvan hierdie pos van Slakkelak net ‘n gedeelte is. Neem in ag dit was om te verhoed dat alles wat sy besit, vir die derde keer binne net meer as ‘n jaar afbrand.

My kind en my sus en my ma is op pad om my boet se skoonseun te gaan groet, waar ‘n ouerpaar hulle seun se paar flentervleisies  moet begrawe. Nou. Hierdie moment.

Ek wil die balans van die lewe waardeer. Dood, maar ook die geboorte van Slakkelak (dink ek al aan my suster as Slakkelak?) se kleinkind oor twee maande. Sus Amipatat se man is vandag 10 jaar gelede dood, maar ander sus se man vier sy verjaarsdag vandag. Waar daar rooibokke loop en soek vir die groen grashalms wat die vuur gespaar het, waarvan Kobie skryf. Ek wil kan lag oor die klomp onervare kleinkinders, wat vir hulle ouma ‘n partytjie reël vir Sondag, en proeflopies maak om sop te kook.

Ek wil nie hoor van ‘vandag se kinders’ nie, ek wil nie hoor van die ‘euwel van Facebook’ nie. Want ek sien die liefde en bereidwilligheid van ‘vandag se kinders’, en ek ervaar die krag wat mense kry, deur gebed, deur kommunikasie op Facebook.

En as ek aan sus Slakkelak dink, dan sien ek hierdie prentjie van haar voor my oë, en dit is waaraan ek vashou.

YSTER

Advertisements