Sleutelwoorde

,

2012 is op ons! Hierdie is ligtelik gesê, en ek glo hoegenaamd nie dat die wêreld op 21 Desember 2012 gaan vergaan wanneer die Aztecs se kalender stop nie, maar dat die wêreld besig is met ‘n geweldige verandering, is onteenseglik so…

Die afgelope paar jaar het soveel mense gespot met die 2012 ding, en sommige ghet dit ook gevrees, maar noudat dit 2012 is en Desember vinnig naderkom, praat niemand meer daaroor nie.

Dit voel sommige dae of die hele wêreld en sy broer buite karakter optree, mense moor mekaar uit, die weer is besig om mense se lewens regtig om te krap, daar was die afgelope paar jaar meer mynrampe, vloede, aardbewings en ander natuurverskynsels as ooit tevore. Vuur het die afgelope tyd ook ‘n groot rol gespeel, op verskeie maniere. Huisbrande, veldvure en karre en vliegtuie wat ontplof. Dis net asof daar meer daarvan is as voorheen.

Maar aan die positiewe kant sien ek ‘n ander vreemde verskynsel – Mense keer in hulle massas terug na Religie. (bv Angus, Gretha) en ander soos ekself ook, glo aan dinge wat sommiges laat lag. Ander weer, stuur in hulle massas cliché-agtige quotes rond asof dit Die Waarheid is. Mense vra baie maklik, BID VIR MY. Dis iets waaroor nooit so openlik en so maklik gepraat is as die afgelope jare nie. Feit is, mense dink vir hulleself en begin opstaan vir dit waaraan hulle glo. En niemand is meer skaam vir hulle sienswyses nie. En niemand is Reg, of Verkeerd nie.

Ek glo 2012 is inderwaarheid ‘n proses wat reeds aan die gang is en al hoe meer momentum kry en wat moontlik ‘n hoogtepunt gaan bereik in Desember 2012. Hy rol al vinniger hier en ek begin moed kry vir die mensdom. Ek begin klein brokkies insig sien op die mees onverwagse plekke. Die vlaag van probleme in die wêreld, misdaad, natuurrampe, energiekrisisse, oorlog en dies meer, sal ook voortstu en erger word, maar stilweg sal al die ‘Christ-conciousness’ en wit lig hulle werk doen en hoe verder hoe vinniger momentum opbou. Ek vermoed teen Desember 2012 gaan daar ‘n omkeerproses wees waar Liefde die skaal gaan tip. Waar mense weer die natuur na waarde gaan skat, en besef die gejaag na materiële dinge het hulle net mooi niks in die sak gebring nie.

Ek weet ook dat energie net dit is – energie. Dit is nie positief of negatief nie, dit hang van jou persepsie en ontvanklikheid af hoe daardie energie jou gaan affekteer.

‘n Feit soos die spreekwoordelike koei is dat ons op ‘n galop is met verandering, en dat dit al hoe vinniger gebeur.

MaanKind sien reikhalsend uit na 21 Desember 2012 wanneer ek glo al die verandering op ‘n spits gedryf gaan word, en dat die wêreld ‘n groot ommekeer gaan maak. Op die een of die ander manier.

172 Days and counting…

Advertisements