Sleutelwoorde

,

Mens dink mos altyd jy red ‘n lewe deur iets drasties te doen, soos om iemand uit ‘n swembad te haal om hom van verdrinking te red. Maar daar is ‘n baie makliker manier om ‘n lewe te red, om ‘n held te wees.

Wees ‘n held, red ‘n lewe – Skenk bloed. Veilige bloed red lewens. Daar sal elke dag duisende mense sterf as ander nie hulle bloed skenk nie. Die maklikste manier om ’n held te wees, is om veilige bloed te skenk.

Gister het my held, MaanMan, sy 160’e eenheid bloed geskenk. Ek was al drie maal in my lewe in die posisie waar ek gelê en kyk het hoe drup ‘n ander mens se bloed in my are in. Jy kan letterlik voel – druppel vir lewegewende druppel, hoe jou bewussyn lig en lig, met elke druppel. Jy voel dit. Jy voel hoe jy weer lewendig word.

Ek onthou een goeie dag hoe hy gekla het dat hy hierdie gevoel het om iets vir die mensdom te doen, maar hy kry net nie sy plekkie in die welsynson waar dit gemaklik oor sy kop skyn nie, en om geld te gee, voel nie genoeg nie, het hy gesê. Hy wou iets van homself gee. Ek kon maar net lag. Besef hy dan nie hy gee sy bloed, hy gee lewe nie? Om jou eie bloed te gee, is seker die mees onselfsugtigste daad wat jy kan doen, want jy weet nie waarheen dit gaan nie. Dis daardie klippie in die dam, waar jy nie kyk waar die rimpels heengaan nie.

Hierdie foto’s is in April 2009 geneem, toe MaanMan sy 150’e eenheid geskenk het. Hulle het ‘n groot fuss van hom gemaak, tot sy ontsteltenis. Hy skenk maar net bloed, het hy gereken.

Slakkelak het ook onlangs geskryf oor wanneer omgee deel van plig word. Gaan lees dit!

Gaan lees meer oor bloedskenk, en hoe jou bloed aangewend word hier: http://wpblood.org.za/

 

Advertisements