As ek onsigbaar kon wees, sou ek gaan snoop in mense se koppe. Want wragtag, wat in hulle koppe is, klop nie met wat uit meeste mense se handelinge blyk nie.

Dit was my antwoord op Kameel se vraag, Waarheen sal jy gaan as jy onsigbaar kan wees?

Toe deel Toorts werk uit, en ek moet sê wat ek bedoel!

Daar is baie keer situasies waar ‘n mens liewer ‘n eerlike antwoord wil hê, as om die ‘regte’ of ‘beleefde’ antwoord te hoor. (Nou nie daardie soort ongeskiktheid wat begin met “Ek is mos ‘n reguit mens…” nie)

Maar sou jy nie graag soms wou weet wat dink mense regtig van iets nie? Polities korrektheid, ontdentlikheid, respek, die gedagte dat al jou Facebook vriende (en vyande) gaan sien wat jy skryf, en vele ander dinge maak dat ons ‘n samelewing geword het waar mense wat gereeld hulle ware gevoelens laat blyk, óf vreeslik gewild is, óf gehaat word.

Nou is dit ook so, ek is geweldig psigies en baie telepaties ingestel, en ek tel baie maklik mense se gedagtes op. Die liewe MaanMan weet al, as ek weet hy dink iets, maar probeer my gevoelens spaar met iets simpels, lag ek, en dan weet hy ek weet wat hy dink. Vandag weer het hy hom vererg vir iets wat ek nie gesê het nie, maar eintlik gedink het. En ek was nie eers oog-tot-oog nie. Dit was eintlik baie snaaks!

Die twee mense aan wie ek graag die stokkie sou wou oorgee, is elkeen besig met emosionele dinge op die oomblik, so ek gooi die stokkie in die lug op, en hoop iemand vang hom!

NEE!!! Ek hoor wat julle dink, so here goes:

Flenters en Murphy, waar sou julle gaan as julle onsigbaar kon wees? Enige plek?

Advertisements