Sleutelwoorde

, , , , , , ,

Eendag lank, lank gelede toe die mens nog in grotte gebly het, het ʼn kru, maar effektiewe ruiltransaksie tot stand gekom. Dit was gebaseer op elke geslag se dringendste behoefte. Die vrou was en is fisiek gesproke die swakker geslag. Sy kan nie jag nie. Nie net is sy nie sterk genoeg nie, maar sy moet ook haar kinders oppas – die kinders wat die man nog nie in hierdie stadium besef het hý in haar geplant het nie. As gevolg van menstruasie, geboorteskenk en borsvoeding ly sy aan ʼn chroniese tekort aan yster. Sy het proteïen nodig. Rooivleis, wat net die man aan haar kan verskaf. En die betaling hiervoor was seks, want al het die man nog nie van vaderskap geweet nie, wou en moes hy voortplant. Terug na die animus en anima. Om te kan jag moet ʼn man ʼn sterk ontwikkelde animus hê. Jy kan nie ʼn bokkie doodmaak as jy hom jammer gaan kry nie. Maar die vleis wat hy in ʼn bloederige hoop voor die vrou se voete gegooi het was nie vir haar genoeg nie. Hy moes ook teer kon wees. Sy anima moes ook kon saamspeel as hy haar wou behou.

Ek wonder hoe al hierdie dinge mense vandag beïnvloed. Vroue is nie meer van mans afhanklik om die vleis huistoe te bring nie. Is dit waarom hulle uiteindelik seksueel ook vryer raak? Voortplanting is nie meer die hoofdoel van seks nie – plesier is die dryfveer. Wat gebeur nou met die ruiltransaksie? Gee ʼn vrou dit dan nou verniet weg omdat sy wil en omdat sy dit nie meer as ʼn basis van mag hoef te gebruik nie? Waarmee kan ʼn man ʼn vrou vandag verlei? As ons vir onsself kan sorg, wat begeer ons van ʼn man? Sy manlikheid? Sy krag en hardheid? Sy dominerende, oorheersende animus?

(Uittreksel uit Slavin, deur Annelise. Binnekort beskikbaar as e-Boek, op Amazon en Kalahari)

Advertisements