Sleutelwoorde

, , , , ,

Mens hoor altyd die self-help ghoeroes sê, vind jou passie, en doen net dit. Dit is die resep vir geluk en sukses. Ek het al my lewe baie skepties na daardie raad geluister, veral toe ek jonk was, en gedink ja, right. Ek meen, regtig. Wie sou my nou wou betaal om heeldag stories te lees, en in my vrye tyd op my rekenaar te speel?

Min het ek gedink, maar ek kan mysélf mos betaal daarvoor. Een goeie dag het dit my getref, toe nog ‘n persoon wou weet waar hulle Viersprong (‘n Kortverhaalbundel waarvoor ek ‘n paar verhale bygedra het) te koop kan kry. (Die uitgewer het ophou funksioneer, en dit is nie meer in druk nie). Probeer dit as e-Boek op Amazon, het dit my te binne geskiet. En siedaar, Boekemakranka is gebore. Goed, dit behels darem bietjie meer as die lees van stories en speel op my rekenaar, maar dis die bottomline. Dit is vir my so lekker, dat dit skoon vreemd voel as ek geldelik daarvoor beloon word!

Nou spiraal dit so uit, dit is vinnig besig om my voltydse werk te word. In die oggende kan ek nie vinnig genoeg my ander ‘verpligtinge’ en huishoudelike take afhandel om te begin nie.

Glo my, ander mense sien skielik ook die passie raak, en deel net werk uit. Ek is gevra om Saterdag ‘n praatjie te hou oor e-Boeke en e-Lesers, ter viering van Nasionale Boekeweek, en vandag ook om bietjie lewe te blaas in ons Vriende van Kleinmond Biblioteek. Eintlik behels dit fondsinsameling en vergaderings en reëlings, maar ag wat, dis vir ‘n goeie saak.

Maar hier sit ek en werk, en ek geniet elke oomblik daarvan! Daar is ‘n diepe tevredenheid, contentment, in my hart, in my siel en hele wese.

Wat is jou passie, en hoe kan jy dit deel maak van jou lewe?

Advertisements