Sleutelwoorde

,

Raaisels in ons kinderdae was nogal algemeen, asook uittelrympie speletjies (Olka bolka riebiekie stolka, olka bolka knol… Êrie tjêrie tjiekerie tjêrie, êrie tjêrie tjol…) Dan natuurlik ook Onder-die-hond-se-stert. (Jy moet elke vraag antwoord met hierdie woorde, sonder om te lag. Daar was ook ons eie weergawes van 20 Vrae, en my ma se speletjie Fyn Kyk. (sy het ‘n horde klein items op ‘n skinkbord gepak, dan kry ons ‘n minuut om dit te bestudeer, en moet dan ‘n lys maak van wat ons onthou.) My ma het ons denke en nuuskierigheid geweldig gestimuleer, en enige kompliment uit my kinderdae oor my sg hoë IK, of daardie gehate opmerking, “Jy is mos een van die slim Petoorsies”, strek my ma tot ere. Sy het ons slim gemáák. But I digress.

Eintlik gaan hierdie inskrywing oor Raaisels. Die Merrie het my getag. Ek onthou min raaisels van maatjies, maar my ouma was baie lief daarvoor. Dit was weer haar manier om ons te leer. Die  wat ek onthou kom uit die tyd toe ek ‘n baie klein dogtertjie was. (So groot soos waar ek in die kruiwa ry wat oupa stoot by hierdie skakel. Oupa het ons weer met stokkies en klippies in die sand leer tel, as ons so drie was. But I digress.)

  • So groen soos gras, so wit soos was, so rooi soos bloed so suikersoet! Wat is ek… (‘n waatlemoen)
  • Al wieker al wakker, al oor die akker, die dooie maak die lewendige wakker. Wat is ek… (‘n sweep)
  • Ek het ‘n perdjie, hoe verder ek hom ry, hoe korter word sy stertjie. Wat is dit? (Naald en gare)
  • Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, woerts in die hoekie. Wat is ek…(besem)

Daar was ook een wat die antwoord ‘n kers is, wat ek nie die raaisel onthou nie. Wie kan dit onthou?

Dirkie, vat aan die stokkie en speel saam. Vertel van jou belewenis van raaisels.

Advertisements