Sleutelwoorde

, ,

Oudword is heerlik! Ek geniet elke jaar meer. Daar is lastighede ja, maar ouer is beter. Maar mens gaan deur baie oppe en affe om dit te besef. (Die oppe en affe wissel mekaar soms ook vinnig af…) Jy het gemengde gevoelens, en jy twyfel soms oor jou vermoëns.

Sommige dae dink ek veertig was die beste, béste ouderdom waarop ek ooit was. Jy is dan op jou prime mense, op jou prime. Jy is vanself hot, sonder dat jy wil. Jong mannetjies jaag jou nog met lus in hulle lywe. Geniet dit dié van julle wat nou daar is, of op pad is soontoe, want op vyftig het ek ongesiens past-my-prime geglip, en nou voel ek sommige dae so knap by my sell-by-date. Maar dan, wie wil nog deur jong mannetjies gejaag word?

Ouer word is nie vir sissies nie, mens het pyne, jy word stadiger, jy word grys, jy kry wegloper ooghare (wat jy nie raakgevat kry nie, want jy kan nie sien nie. Jou multifocals focal ook nie daar nie). Jou metabolisme word stadiger, jou vel is dunner en krap maklik stukkend.  Jou tande slyt skerp. Al hoor jy nog goed, maak baie stemme maklik ‘n ruising. Jy raak vroeër rustig in die aand, al gaan slaap jy nog nie. Laataande kuier beteken nou 10 uur of so.

Ek word ook bang om dinge te doen wat voorheen maklik was, klim versigtiger van klippe en hoogtes af, hou almal op as ons bergklim, stap met my fiets teen steil opdraandes uit. My oë brand soms sonder rede. Ek lees stadiger, en moet meer konsentreer. Ek vergeet klein dingetjies. Ek kry plooie op plekke wat jy nie geweet het plooie kry nie, soos op my knieë.

Die persoon wat sê jy is so oud soos jy voel, is duidelik nog nie daar nie. Oumense in advertensies wat op die strand huppel, is ‘n mite. Jy stap versigtig, want jy swik maklik ‘n enkel.

Ek het een dag my ma gevra hoekom het sy my nie voorberei op hierdie aspekte van ouer word nie, en toe sê sy sy wou nie kla oor oudword nie. Ek het verneuk gevoel.

Maar alles is darem nie doom and gloom nie! Die beste, beste deel van ouer word is die terugkyk. Jy kan jou foute sien, en dit nie weer maak nie. Jy is rustiger, want jou gedrag word nie meer gemotiveer deur ander se verwagtinge nie. Jy kan NEE sê. Jy kan jou kreatiwiteit makliker uitleef. Jy weet wat motiveer mense, jy kan kyk na hulle gedrag en saggies jou kop skud. Want jy weet elke ou moet sy eie paadjie stap.

En jy stap jou paadjie met rus in jou hart, pleks van lus in jou lyf.

‘n Jong blogger het eenmaal ‘n weldeurdagte stukkie geskryf oor haar vrees vir oudword. Sy het my kommentaar so geantwoord:

Ek sien daagliks hoe ouderdom mense opslurp en uitspoeg en geen genade het nie. Ek voel dat ek genoeg gesien het om veroudering te vrees eerder as om dit te omhels. 

Ek mag verkeerd wees natuurlik, ongelukkig kan net tyd in hierdie geval leer.

Dis baie waar, net tyd kan leer. Dit is waarom Madeline L’Engle tereg gesê het: The great thing about getting older is that you don’t lose all the other ages you’ve been.

As jy ouer is kan jy terugkyk op al die ouderdomme. As jy jonk is kan jy maar net raai. Ouderdom is nie die verskrikking wat dit lyk nie! Soos Kiarakie vir Oupa gevra het toe sy drie was, is sestig ouer as ses? Vir haar is ses oud, maar oupa voel jonk op sestig.

Soms kla mens, dan klink MaanKind soos ‘n moangat, suurgat ou antie. Vandag is dit weer vir my lekker! Daar is soveel dinge waarvan mens vry word met die jare. Een van die lekkerste dingetj8ies is dat mens maklik NEE kan sê. Of Ja. Ek wil. Maar mens hóéf of móét nie meer dinge doen om ander te behaag nie.

Ons is beslis nog nie oud genoeg om al lamgelê te wees deur ouderdomsverwante kwale nie, maar in my onmiddellike vriende- en familiekring is daar wel mense wat jonger as ek is wat al getref is daardeur.

Ek glo baie daarvan het te doen met ons gesonde eetgewoontes en spirituele sienings. En natuurlik keuses wat ons vroeër in ons lewens gemaak het, sodat ons nou by die see kan bly, kan rondrits as ons wil, en lekker snoesig kan binne bly as ons wil.

Dit het baie opofferings geverg toe ons jonger was. Ons het gewerk. Geleer. Gespaar. Maar nou is dit lekker om terug te kyk en te weet:

I am at the right place at the right time.

Thank You God.

Advertisements