Sleutelwoorde

,

Wie van ons het nie as kind klippe in ‘n dam gegooi en vir die rimpels gekyk nie? As mens twee klippe naby mekaar gooi, dan oorvleuel die rimpels mos en kry jy die interessantse patrone. Of daardie plat klippe wat ons so op die water laat hop het!

Een van my lewensmotto’s is, Gooi jou klip, jy hoef nie te weet waar die rimpels heengaan nie.

Dit het al ‘n paar maal gebeur dat ek uit die mees onverwagte oord terugvoer kry oor so rimpel, maar hierdie week het dit my asem weggeslaan.

Ongeveer 2004 was ek ‘n gereelde rubriekskrywer vir Kaap Rapport, en so het my heel eerste goeie vriendin in die omgewing  – Lidia Theron – ook vir hulle begin skryf. Die redaksie het verander, die beleid het verander en die skrywers het verander, en Kaap Rapport bestaan nou ook nie meer nie.

So het ek hierdie week die voorreg gehad om koffie te drink met ‘n baie bekende joernalis. Daar kry ek toe ‘n vuishou in die maag, asem weg en trane vlak! Sal die man my nie vertel dit is my ou storietjies wat vir hom die inspirasie was, om sy potlood skerp te maak, sy papier glad te stryk, en sy woorde te oefen op sy kerkblaadjie nie. Dit het hom moed gegee om sy eerste rubriek voor te lê, wat aanvaar is. Die een woord het gelei na die ander, hy het meer en meer geskryf, en is later ‘n voltydse pos by ‘n nasionale koerant aangebied, en hy het die onderwys bedank om ‘n nuwe loopbaan te begin, waarmee hy baie gelukkig is. Hy onthou ook een spesifieke rubriek van Lidia, wat vir hom besondere inspirasie was.

Nou wil jy meer! Ons tweetjies se klippies se rimpels het iemand getref, en sy lewe dramaties verander, in ‘n rigting waaroor hy gedroom het.

Dis dan wat ek so dankbaar is vir wie en wat ek is, dat ek wéét ons moet maar net almal ons lewe so lewe soos ons wel doen, en doen wat ons moet doen, dat ons wel mense aanraak daardeur, en dat ons nie hoef te wonder of te weet nie. Ons moet net doen wat ons doen.

Do what you do do well boy do what you do do well
Give your love and all your of heart and do what you do do well

 

Advertisements