Ek kan sonder baie dinge klaarkom, hoef nie  fancy wiele onder my alie te hê nie, as dit beteken ek kan uitsien na, of terugkyk op, ‘n reis na ‘n verre land. Toortsie ken bepaald haar kastimmers…

‘n Stuk van my hart het in Engeland agtergebly. Hierdie spesifieke toer was in Maart 2007. Ons het al ‘n paar plekke gereis, maar hierdie was vir my ‘n baie báie spesiale vakansie.  Ons het Engeland platgery en net ‘n kort draai in Skotland gemaak,  hopelik kry ons weer geleentheid om terug te gaan. ‘n Stuk van my hart en siel woon daar in Engeland.  My keel word droog en ek raak emosioneel as ek na die foto’s kyk,  my hart hunker terug na vorige lewens wat ek daar gelewe het.  Hier is net ‘n grepie van Skotland:

Die perd is ‘n standbeeld opgerig ter ere van Die Royal Scots Greys wat hulle lewens verloor het tydens die ABO. En wat is ‘n besoek aan Skotland sonder die Edinburgh Castle?

 

 

 

 

 

 

Natuurlik sal MaanMan my eerste keuse van reisgenoot wees. Ek moet bieg, ek reis nie graag saam met ander mense nie, my man en kinders is ‘n uitsondering. Die reis wat ek en my een dogter na Parys onderneem het, was een hoogtepunt, en die mees onlangse reis saam met my ander dogter in San Francisco, seker die heel kosbaarste ervaring ooit. Ek is haar baie dank verskuldig, ons heel eerste oorsese reis was ook danksy haar. Van daar af kon jy ons nie keer nie.

So jammer tog, bloggers, ek reis net saam met my eie. Maar ek lees baie graag van julle ervarings. Een van my gunstelingste bloggers is juis Kyker, omdat hy sy reiservarings op so ‘n unieke manier deel, dat dit voel of hy deur my lens kyk.

Trek asseblief jou reisskoene ook aan, liewe blogger wat hier lees. En vertel vir ons.

 

Advertisements