Mense verander. Ons word ryper en groei emosioneel en spiritueel. Maar verander ons diepste wese ooit?

Hierdie week word ons 40-jaar matriekreünie gehou. Facebook het dit makliker gemaak om die mense op te spoor, maar ek is verstom hoe min van ons groep eintlik ‘openbare domein’ is. Moontlik word dit wat ek doen vir ‘n lewe grootliks bepaal deur sigbaarheid op die www, moontlik is dit my ingebore nuuskierigheid oor en belangstelling in ander mense se lewens, maar meer waarskynlik is dit bloot die tikkie ekshisbisionisme in my. Daarom bedryf ek my besigheid van webwerwe af, beoefen ek ook so my passie (wat intussen ook in ‘n besigheid ontaard het), ek blog en het ‘n redelik oop Facebook profiel.

Maar gaan ek die reünie bywoon? Nee.

Eers was ek nogal lus om te gaan, maar die afgelope tyd het ek my motiewe bevraagteken, en besef dis maar net my ingebore nuuskierigheid wat sou maak dat ek dalk gaan. Ek ken myself, ek is geen party animal nie, en ek sou almal wou bekyk, en na 10 minute huistoe gaan. As ek nie in die vyf jaar op hoërskool met iemand sou aanklank vind nie, waarom nou skielik? Met ons 15-jaar reünie het min mense my herken, of my geselskap opgesoek. Ek was immers een van die Onsigbares op skool.  ‘n Taamlik arm plaaskind. Gelukkig darem die arm-maar-ordentlike soort. Die dorpskinders het mekaar geken sedert laerskooldae en saamgespeel, die koshuiskinders was ‘n geslote groep wat niemand in hulle binnekring wou hê nie.

Met die 25-jaar reünie het ek al bietjie ontluik, ek was in ‘n akademiese omgewing, moes op konferensies praat en het gaan selfvertroue leer by Toastmasters. My gym-lyf was skraal en glad, bruin en soepel. (Op 40 is mens mos op jou prime, in alle opsigte!) Ek onthou my kort wit rokkie het vreeslik reaksie van die manne ontlok, sommer met die aankoms het ek twee agter my hoor praat oor hierdie  (wat hulle gedink het is ‘n gebrek aan) onderklere (Hulle het gedink ek is seker ‘n skoolmaat se vrou). Ek het selfs ‘n aanbod gehad om ‘n kamer te deel in die koshuis waar ons oorgeslaap het…). Dis nie dat ek so danig oulik was nie, ek dink net die kontras met die skooldogter was nogal groot. Weer het min mense my regtig herken, of my geselskap opgesoek. My lyf ja, maar my geselskap? Maar dankie aan Hendrik, vir die bier wat jy vir my gekoop het, en iets moois vir my gesê het.

Dan het ek ‘n paar wonderlike maters gehad, met wie ek (danksy Facebook) weer kontak het. Jane, Estelle en Marietjie, julle verryk steeds my lewe, net soos op skool. Ag en nou verlang ek sommer ook weer na Gesina ook! Natuurlik is daar ‘n klomp van my ou skoolmaats wat ek graag wil sien. Miemie, Sue, Hannetjie, Ilse, BK, Carel, en nog ‘n paar. Maar ek glo die mense wat ek nodig het in my lewe for my Highest Good, sal my paadjie kruis. Ek is happy and content, my lewe is lekker en relatief ongekompliseerd, ek het absoluut alles wat my hart maar kan begeer, ek ek sit lekker hier by die see en kyk maar so na die wind en die wolke op ons berg wat die mis en die reën bring…

En ek weet: The older we get, the more like ourselves we become

 

 

Advertisements