Sleutelwoorde

,

Mens se lyf verander baie met die jare. Die meeste vroue se lywe verander na swangerskap, en baie vroue kry ook bietjie middle age spread na menopause. Dit is veronderstel om ‘normaal’ te wees om  so 5 kg op te tel nadat jy opgehou rook het, as gevolg van veranderde metabolisme. Al hierdie dinge het met my gebeur, en ek gee glad nie om om ouer te word, met die gepaardgaande liggaamsveranderinge nie.

Daar is net een ding wat vir my baie ongerieflik is, my voete hou aan groei!. In lengte. Ek is getroud in ‘n nommer 4 1/2, en nou dra ek ‘n sewe! Ek weet ek was ‘n kinderbruid, wat twee cm langer geword het nadat ek twee kinders gehad het, maar nogtans. (Van 1.63 gegroei na 1.65) Baie interessant is dat my regtervoet uiteindelik die linkervoet ingegroei het. Oor die jare was my regtervoet altyd kleiner as die linkervoet, soms met soveel as ‘n nommer. Ongeveer twee jaar gelede het ‘n verkoopsman by Tekkie Town kliphard begin lag toe hy my voete sien.

Dja, ek wiet pety mense se voete is die ene groter assie anne ene, maar sovéél? Hahahaaaaa….

(Toemaar, ek het saam gelag, hy het baie moeite gedoen om vir my lekker tekkies te kry wat beide voete pas.) Dit beteken ek kon nooit hierdie ballettipe skoene dra nie. En skielik was die laaste drie paar skoene wat ek gekoop het nommer sewe! Ek het gevoel hierdie jaar my boots van verlede jaar sit stywerig, en die laaste skoene wat ek gekoop het gedink dis maar die maak of die pas wat maak dat ek ‘n sewe moes vat. En wraggies hierdie week moes ek twee paar nommer sewes vat! En nee, ek het nie onlangs gewig opgetel nie, en my voete is ook nie geswel nie.

Die snaakste was toe ek my voete hierdie week meet aan my volwasse dogter s’n, haar voete is nou seker 2 cm korter as myne, en ek onthou in haar hoërskooljare het ek so sexy paar enkelboots by haar geërf toe dit vir haar te klein geword het.

Raar maar waar. Dink julle mens word darem meer volwasse, of wyser ook soos wat jy groei?!?

Advertisements