Sleutelwoorde

Mense sê ‘n mens kom nooit oor die dood van jou kind nie. En ons eerste gedagte is altyd, waarom? Hoekom nou? Waarom sy? Waar is die God van Liefde?

‘n Stuk of 15 jaar gelede is ons familie geruk deur die motorongeluk waarin my niggie se dogter en haar ongebore baba dood is. Haar kleuterseuntjie en man het oorleef. My niggie het baie swaar verwerk hieraan, en ook aan die klein seuntjie wat sy hoogstens een maal per jaar vir ‘n vakansie gesien het.

Min het ek geweet hoe hierdie seuntjie mense se lewens sou aanraak. Die afgelope week lees ek so proe-proe aan die pragtige boek van Evette Weyers, Waar die hart van vol is... Sy beskryf haar lewe met Marius, haar beelde en haar lewe. “Die boek ontgin die gevoelens, gedagtes en temas wat die beeldhouer se kleireis na beelde rig.”

Ek haal graag daaruit aan, p145 – 147.

My Seeklong-kind

Vroeër jare het ek soms snags in die diep oseaan gaan swem en geroep soos walvisse. In die binnesee van sy ma se baarmoeder het ‘n kind my gehoor — en teruggeroep. Hy het strome gesoek na my toe en daarlangs geswem sodat ons lewens kon kruis. Ons was albei seekreature, van ouds af.

Bokant die oppervlakte van die water en op land, tussen die twee-beniges, het die lewe sy gewone gang gegaan. Annies Breytenbach het my opgewonde vertel van haar broerskind se seun, Tierre, wat op drie al so buitengewoon woordvas en bekkig was. Tierre se ma het in ‘n ongeluk gesterf, en Annies het Johann, haar broerskind, en sy seun genooi om op Pringlebaai te kom woon. Annies het Tierre se pleegouer geword, en nog later het sy en Jan die aangenome ouers van die merkwaardige indigo-seuntjie geword.

Wat ek en Tierre gedeel het — nog voor ons ontmoeting — was ‘n passie vir die see. Ek en Annies het hom geleidelik leer duik, en later het ek hom geneem om dieper waters te trotseer en sy eerste vis te skiet. Ons het hom ook geleer om die see op te pas. Hy het flink gehelp om oestervangers se kuikens op Pringlebaai se strand aan die lewe te hou, midde van hordes Kersvakansiegangers. In die water is hy pure dolfyn. Ek verkyk my aan hoe die golwe en strome trotseer en die see sy domein maak.

Toe hy klein was, het Tierre soms baie verlang na sy eerste ma, Kataliena, soos hy haar genoem het. Dan het hy ‘n ruimtetuig gebou en na haar ster gevlieg, om met haar te gaan praat. Ek was gelukkig genoeg om een wintersaand saamgenooi te word op sy sterretog. Ek het hom gehelp om die ruitetuig te bou, stoele heen en weer te skuif en alles reg te kry vir die vlug. I—. het die hele reis gelei. Ons het die aarde met ‘n spoed verlaat. Gou het ons tussen die sterre deurgevlieg tot by sy ma se ster. Om net daar aan te kom en haar te sien, was vir hom genoeg.

Hierdie verhaal van Tierre en sy ster-ma het ander kunstenaars, buiten myself, ook geraak en geïnspireer om iets daaroor te skep. Hennie van Greunen het ‘n ballade oor Tierre se verhaal vir een van sy kabaretstukke, Pello, geskryf.  Pedro Kruger het dit getoonset en gesing.

In  2003, toe ek gewerk het aan my uitstalling, “Meeting the Gods that we Harbour, a Celebration of my Friends”, het ek my vriende as gode uitgebeeld.

Ek het Tierre as die Klein Prinsie op sy planeet gemaak. Hy staan alleen op sy see-wêreld en reik op na sy ma se ster. Die beeld heet Seeklong. By die opening van die uitstalling het ek die beeld vir hom present gegee. Hy het onmiddellik uitgehardloop en van boombas en klip ‘n beeld gemaak wat hy vir my gegee het.

Op sy dertiende verjaardag wou Annies vir Tierre ‘n “Boermitswa” gee. Ek moes daaraan vorm en inhoud gee, en ook die spreker wees. Dit was interessant om deur ou inisiasie-seremonies en rituele te soek na wat toepaslik sou wees vir Tierre. Toe ons almal saam sy man-wording vier, het ek ‘n gedig voorgelees wat Jan geskryf het. Die titel is “Testament van ‘n nalatenskap aan Tierre”. Dit begin so:

En aan jou my spirituele seun
bemaak ek al my woorde, soet en bitter,
om te gebruik as gidse op jou lewensreis.

Nou, op 17, is Tierre ‘n bobaas-duiker en jag hy vis en seekos vir sy gesin, of gaan haal hy mossels vir Annies se seedisse. Jan is intussen dood, en Tierre is nou die man in die huis. Die see bly steeds sy passie. Tierre leer sy maats om net so kranig te duik soos hy – hy is ‘n baie vrygewige wese. Ek leer ook nou by hom as duiker, veral hoe om vis te skiet.

Soms, laatnag, ontmoet ons nog steeds in die diepste van diep oseane, as seekreature, en sing ons saam soos walvisse.

*******

As dit darem nie vir jou die doel van hierdie mense se lewe in perspektief plaas nie… Lees weer:

Vroeër jare het ek soms snags in die diep oseaan gaan swem en geroep soos walvisse. In die binnesee van sy ma se baarmoeder het ‘n kind my gehoor — en teruggeroep. Hy het strome gesoek na my toe en daarlangs geswem sodat ons lewens kon kruis. Ons was albei seekreature, van ouds af.

Lees meer oor hierdie pragtige boek hier: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/uittreksel-uit-evette-weyers-se-boek-wat-die-hart-van-vol-is

Advertisements