Groen beteken vir my Overbergse graanlande.

Die dag toe ons hierheen getrek het, 1 September 2002, was dit mistig en reënerig, afgewissel met kolle son. Ek was alleen in my kar, tussen huise, tussen provinsies. MaanMan het apart gery, met sy bakkie en sleepwa, met die twee getraumatiseerde katte. Die 18 uur op die pad het ek omgekry, deur somme in my kop te maak, Ek het die aantal kilometer (1450) deur 50 gedeel, en elke keer as ek nog 50 km gery het, uitgewerk watter gedeelte van die 29 X 50 km ek al gery het. So het die pad vinnig omgegaan.

Die laaste 100 km graanlande was groen, en daar was die een reënboog op die ander, wat ek as ‘n teken beskou het. As dit enigsins ‘n teken was van hoe gelukkig ons hier sou wees, dan was dit elke traan werd wat ek gepink het toe ons verby die graanlande begin ry. Dit was vir my die mooiste gesig wat ek ooit gesien het.

http://dailypost.wordpress.com/2012/11/16/weekly-photo-challenge-green/

Advertisements