Mense dink ek gooi my lewe op Facebook oop, en tog is daar ‘n fyn lyn wat ek nie graag oorskry nie. ‘n Vriendin sê gister:  Haai, ek het nie geweet nie, ek was ook so lanklaas op Facebook… Asof ek so iets, wat eintlik iemand ánders raak, vir die wêreld sou vertel, wat die persoon self nie eers doen nie. Mens sit mos nie jou persoonlike sake daarop nie? My reël vir myself is maklik: Dit wat ek in enige geselskap sou sê, sal ek op Facebook sit. Daarom is my profiel ook oop. Ek is tog nie skaam om in die openbaar te loop nie? Maar Facebook is vlietend, jou gesprekke raak weg. Vandag hier, more daar.

Maar tog is daar onderwerpe wat ek ook as ‘n reël vermy. Een voorbeeld is politiek, en raskwessies. Die rede is nie dat ek skaam is vir wat ek glo nie, maar dat dit iets is waaroor mense emosioneel raak, en elke mens het ‘n ander mening. Maar tog dop ek soms my eie toets. Soms is daar dinge wat ek op Facebook deel wat ek eerder moes blog, en vandag is so ‘n voorbeeld.

Iets waaroor ek baie wonder. Waarom dink ons Suid-Afrikaners wette en reëls is bloot riglyne? Dwars en weerbarstig oor alles! In die VSA en die UK en in Europa is mense baie meer ingestel om wette (bv verkeersreëls) te gehoorsaam. Hulle doen dit net. Dis nie opsioneel nie. Is dit waarom hulle sisteme net eenvoudig beter werk as by ons?

Dit geld ook sommer vir belasting betaal, onderhoud betaal, commitment aan jou gesin, en vir baie meer. Alles het opsioneel geword. Nee. Dis nie bevorderlik vir welsyn en samesyn en vrede nie.

Sus Magda sê: En als kom terug na respek: vir jouself, ander en gesag. Hier het ‘n mentaliteit begin ontstaan van as jy kan wegkom daarmee, doen jy dit. Dit is tog mos maar waar integriteit inkom.

Kan ons dit verander? Dalk as ons by onsself kan begin. By ons eie menswees en grense en respek en integriteit. Ons eie ingesteldheid. As ons daarmee tevrede is, kan dit dien as voorbeeld vir ander. So kan dit uitkring in ons huise, in ons dorp en na almal wat ons raak.

Vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae…

Advertisements