Sleutelwoorde

,

‘n Nuwe jaar, ‘n nuwe siklus begin oor bietjie meer as sewe uur. Tog begin daar ‘n nuwe siklus elke dag. Ons hele lewe is opgedeel in siklusse van ure, dae, weke, maarde en jare. Dan is daar ook sommer tussenin goed soos voormiddag en namiddag, vroegaand en laataand.

Die son kom op en gaan onder met gereelde reëlmaat. Elke dag is daar mense wat kyk na ‘n besonderse sonsopkoms, en menige mens sit en kyk hoe gaan die son onder oor die  horison van die see/berg/woestyn of die buurman se boom. Die maan se siklus, eb en vloed. Seisoene kom en gaan. Oujaar en Nuwejaar. Jaar in en jaar uit, meedoënloos stoomroller alles aan en in en op en uit en af en heen en weer.

Eke jaar oujaarsaand begin ons dorp lewe kry as dit donker word so teen 20:30. Oral hoor jy kinderstemme, musiek en jongmense se gejil. Grootmense is vroegaand nog sedig en stap bedeesd met bakke slaai en koelsakke op pad na een van vele paarties. Braaiveisreuke begin die lug vol trek en my oë brand van die paraffienreuk van die Blitz. Bakkies vol jongmense agterop ry en  speel musiek luidrugtig deur die strate. Almal is in ‘n goeie stemming en groet en waai en lag.

Omdat ons in ‘n baie sentrale kol bly, is ons gastehuis se parkeerarea vol, nie net van ons eie gaste nie, maar ook mense wat nie nader aan die strand parkeerpleek kry nie.

Dis Lig en dit Lewe. Almal wag vir die groot (amptelike) vuurwerkvertoning wat so teen 23:00 op die strand afskop, en amper 2 ure aanhou.

Normaalweg is oujaarsaand vir my een van nadenke oor die jaar wat verby is, ‘n refleksie op wat ek geleer het en nog kón leer, maar elke jaar word my gedagtes eenvoudiger, minder wroegend.

Dankbaarheid. Dis al. Ek is so dankbaar vir my lewe, my kinders en kleinkinders, my liewe MaanMan, my gesondheid en my besigheid.

Uit met die oue en in met die nuwe!

Vrede op aarde in in die mense ‘n welbehae!

Advertisements