Meeste mense verstaan glad nie my werk nie. Deel daarvan is dat ek ‘n ekspert is om enige (en ek bedoel énige!) moontlike menslike sekresies se vlekke uit wit katoenlakens kan haal. Okei, ek weet ook hoe om tamatiesous, die asynerige olie van slap chips, die bros krakerigheid van pop corn en chippies en koekies en dies meer uit te was, sodat elke laken weer vlekloos wit is. Mense kry my gedurigdeur jammer as ek sê ek was en stryk self die gastehuis se beddegoed. Ons maak ook self skoon. Hoekom? Dis mos nie minderwaardige werk nie? Waarom beïndruk dit mense meer dat ek ‘n webwerf aanmekaar kan weef en weet van SEO, sodat ons op bladsy 1 van Google soektogte bly? Of e-boeke kan verwerk en publiseer?

Ons doen dit uit eie keuse. Die redes is nie belangrik nie, wel dat dit ons eie keuse is. Mense moet ook besef, hulle kan nie ons werk vergelyk met afgetree-wees-by-die-see nie, hulle moet dit vergelyk met mense van ons ouderdom, wat elke dag die verkeer moet aandurf werk toe, daarna vergaderings bywoon en die gewone lief en leed van die werksplek, met dalk die stress van onbevoegde kollegas, nepotisme,  mislike base en bitchy kollegas. Dan lyk skoonmaak en wasgoed doen nadat jy lekker laat geslaap het en kwaliteitgeselse om die koffiepot ingepas het voor die skoonmaak vir my nie te sleg nie… Die skoonmaak is mos nou ook nie elke dag se ding nie, net as mense uitgaan.

Nietemin. Nie dat dit elke dag maklik is nie. Nadat ek vir twee dae olik was, het ek gister skielik emosioneel geraak en uitgevaar dat die werk my onderkry en te veel is en te swaar is en ek is siek en seer en nobody loves me en al daai. Die geduldige (let wel geduldige, nie simpatieke…) MaanMan het net met so skewe laggie gesê: Chop wood, fetch water. Ek het toe baie dramaties die oond met ons aandete afgesit en gesê ek loop baai nóú my sere lyf in die see en nie ‘n minuut later nie. Soos ons afstap see toe sien ons die vakansiehuise is weer gesluit, die blindings toegetrek. Die strate stil. Net daar tref dit my: Hier loop ek see toe, om my lyf in die helende seewater te gaan baai, en al die mense wat my so bejammer het die vakansie, is hede nou in hulle karre in die spitsverkeer op pad huis toe.

Spesiaal net vir my, of so het dit gevoel, was dit hoogwater. ‘n Kalm helder-helder dam water, sonder golwe, met net sulke ligte deinings, verfrissend maar nie te koud nie. En so kon ek my seëninge druppel vir sout druppel tel.

PS – Vandag het ek binne ‘n japtrap sewe beddens se beddegoed klaar gestryk, en besef: Die geheim is in die vou. As dit uit die droër kom, vou dit netjies soos wat dit in die kas moet gaan. Daar is werklik iets bevredigends daarin om nog ‘n wit 100% katoen kussingsloop te stryk, en op die stapel te pak…

Zen Proverb – Before enlightenment; chop wood, carry water. After enlightenment; chop wood, carry water.

Lees die mooiste stuk daaroor HIER.

“Put your heart, mind, intellect and soul even to your smallest acts. This is the secret of success.”
Swami Sivananda

Advertisements