Hoe ontspan ‘n mens? Hoe vat jy af? Iemand het gesê dat dit baie lekker is om vir jouself te werk, want jy werk net halfdag. En die beste deel daarvan is dat jy jou eie twaalf ure kan kies. Dis so waar!
Die lekker is natuurlik dat mens dit sonder ‘n wekker kan doen, jy kan slaap tot jy wakker word, maar dikwels werk jy dan tot jy weer gaan slaap.
‘n Groot deel van die lekker van my dag is ons oggendkoffieritueel, wat ons gesels totdat ons ontbyt eet, dikwels eers hier rondom tienuur. Maar daarna werk ons. Party dae vang ek myself dat ek glad nie ‘n breek vat behalwe ons aandritueel van drankie en kosmaak en eet. Daarna werk ek weer. Totdat ek vaak word so teen tienuur.
Ons dae is ook nie opgedeel in week/naweek nie, ons ry wanneer ons moet en maak dan ‘n uitstappie daarvan.
Soms is dit nodig dat ons kuiermense moet kry om ook ‘n bietjie af te vat! Vandag sit ek op die dek op die strand met my Kindle en kokketyl, terwyl ek wag vir MaanMan en kleinseun, hulle het baie ver langs die strand gaan stap. Waarom het die bleddie ou Calvyn sy sieninge ooit laat groei op die mensdom, om sovees Johannes-op-die-skouer oomblikke in ons koppe te verewig, van deugsaamheid? Om skuldig te voel as jy ontspan? Vandag kokketyl ek! Johannes se gaai.

Posted with WordPress for BlackBerry.

Advertisements