Soms gebeur daar mos iets wat jy jou kop laat vasgryp en vir jouself vra, what have I done?!? And why? En soms werk iets tog reg uit, wat jy dink verskriklik verkeerd is.

Nou in die Kerstyd bel iemand: Kom gou, en bring jou kamera, daar brand ‘n huis op die hoek van So-en-so. Ek skrik, dit is die hoek waar ons vriende woon, en ons hardloop straataf, met die idee dat ons hulle moet gaan help op welke wyse ook al. (Ek vat toe nietemin my kamera saam, dit is mos so half deel van my lyf.)

Op pad sien ons dit is nie die huis van ons vriende nie, maar wel dié van een van my Leeskring-vriendinne. Sy was nie tuis toe die brand uitgebreek het nie, en my hart was seer toe ek sien hoe die brandweer die brand blus. Mens kon die vlamme sien in die studeerkamer (ek ken die huisuittleg), waar hulle boeke van onskatbare waarde gehad het. Die tipe goed wat uiteindelik in museums beland. Voor my oë het die dik strome water die vlamme daar geblus, en ek kon my voorstel hoe die boeke nou een asserige pappery is.

Huis brand in KuswegNietemin neem ek toe ‘n paar foto’s en stuur ook een vir ons plaaslike koerant, met die versoek: Moet asb nie my naam bysit nie, ek ken haar en wil nie hê dat hulle voel ek skend privaatheid nie.

Ten spyte van my versoek, het my naam groter as gewoonlik by die foto gepryk. Ek was woedend, en formuleer toe vir dae aan ‘n uitkak uittrapbrief in my kop, maaar skryf dit gelukkig nie, want verlede week lui die foon:

Trisa Halloho!
Hallo, Trisa, ** ** hier.
** ! Hoe gaan dit nou na jou drama en trauma?
Goed dankie. Dis juis waaroor ek bel, oor jou foto in die koerant.
*Gryp kop in hande*
Ja?

Ek is so dankbaar jy was daar en het die foto geneem! Die assessor het bewys nodig dat daar rook in daardie deel van die huis was, andersins gaan hulle nie … en … vervang nie. En daar wys dit duidelik op jou foto.

Nog gesels, meer foto’s dadelik gesoek en na die regte persoon ge-e-pos. Nou het ek pas die laaste papiertjie weggegooi van haar dankiesê-boks-tjoklits. Want haar huis word volledig reggemaak danksy daardie foto.

So was ek kwaad oor die redakteur se ‘fout’, terwyl dit tot iemand anders se redding gekom het!

 

Advertisements