So het ons mos geleer as kinders. En ek het gebid. Ek het met my hele hart vir ‘n fiets gebid. Die ontnugtering en teleurstelling van gebede wat nie verhoor word nie, het my geloof vir baie jare ‘n knou gegee.

My mangels is op 5-jarige ouderdom uitgehaal, en my blindederm ʼn jaar of drie later. Brits Hospitaal se kamers het op die straat uitgekyk waar al die kinders verby ry op hulle fietse op pad skool toe. Beide kere was vir my die wonderlikste gesig om daar te lê en te kyk na die laggende kinders wat met sterk bene hulle fietse trap, die meisies se bene blink in die son. Ek was nog klein, maar ek het ʼn fiets met my hele hart begeer, en kon nie glo dat die kinders wat in die dorp woon sommer net so op hulle fietse ry, asof dit maar net niks is nie! Na 50 jaar sien ek steeds die prentjie voor my geestesoog.

Ek onthou dat ek na baie lank se spaar R12.50 vir my pa gevat het, en gevra het of hy die ander helfte kan bysit, dat ek ‘n fiets kan kry. Hy het net gevra nou waar wou ek heen ry met ‘n fiets. My hart was gebreek, en ek het gesweer dat ek eendag self vir my ‘n fiets sou koop. Met my pa was daar geen teëpratery, mooipratery of selfs redenasie nie, en ek het vir baie jare ‘n wrok teen hom gekoester. Ek het geweet daar was nie geld vir luukshede nie, maar in my kinderkop was my helfte genoeg motivering dat ek ‘n fiets kon kry. Helaas nie. So het ek maar met familiekuiers op die niggies se fietse gery en my eie begeer. My wrok getroetel met elke trap.

My getroue fiets!Ongeveer 1980, het ek baie hard gewerk, en getroud met ‘n ewe hardwerkende man, het ons huis gekoop en twee kinders deur bottels en doeke, en op fietse gekry. Uiteindelik was dit my beurt! Ek het vir R30 ‘n tweedehandse fiets gekoop, so ‘n lekker swart dikwiel Raleigh. Net gou is hy blou geverf, en ek het die buurt platgery. My gebede was verhoor, weliswaar amper 20 jaar later, maar nietemin.

My fiets het my goed gedien, met elke trek het hy saamgetrek, ‘n egskeiding en nuwe huwelik oorleef, en vir meer as 30 jaar het ek met hom gery. My man het hom oor die jare oorgeverf, lekker gemaklike handvatsels opgesit, van tyd tot tyd ‘n nuwe mandjie vir my boeke en dinge. Een goeie dag het een van ons gaste se kinders egter met my geliefde fiets geval, en sy arm gebreek, sowel as my fiets se vurk gebuig. Sy arm is gespalk en het weer aangegroei, maar my fiets se wobble kon nooit weer uitgebuig word nie. Die seeluggie het die roeskolle weer laat uitslaan, en toe is dit tyd. Tyd vir ‘n nuwe fiets!

My nuwe fiets - Schwinn FlingEk het deeglik navorsing gedoen, en my specs was maklik, gemaklike saal, nie ‘n rat van ‘n aard nie, en lekker gemaklike handvatsels. En kyk wat kry ek Dinsdag! Ek het reeds die fiets gereserveer, en sommer ook die verkoopsman gebel en e-pos gestuur, om seker te maak hulle hou hom vir my. Die liewe MaanMan is besig om my nuwe Fling (dit is ook haar naam) se woonplekkie reg te kry, en seker te maak sy word sonder skrape vervoer.

En so word gebede verhoor. Op die regte tyd.

Expect to have hope rekindled. Expect your prayers to be answered in wondrous ways. The dry seasons in life do not last. The spring rains will come again. 
Sarah Ban Breathnach

Advertisements