Sleutelwoorde

, , , ,

Die MaanMense hou mos van rondry. Op ons reise, vat ons meestal “the road less travelled” en as ons by ‘n vurk kom, vat ons hom. So beland ons toe een goeie dag in die begraafplaas van Chrissiesmeer, waar die graf van ‘n Skotse soldaat is. Wat is nou snaaks daaraan?

In die pragtige omgewing by Chrissiesmeer met sy sterk Skotse agtergrond, het een geveg tussen die Engelse en die Boere die oorlog in 1901 met nog ’n jaar verleng. Die grafte van gestorwe helde aan albei kante is nou langs mekaar in die begraafplaas te sien.

Die aangrypende verhaal van Arthur William Swanston word jaarliks op 16 Oktober hier vertel.

Hy was ’n luitenant in die Inniskilling Dragoons wat ’n medesoldaat se lewe gered en toe self gesneuwel het in die Slag van Chrissiesmeer, op 18 Oktober 1900.

Vir langer as 60 jaar ná sy dood is daar jaarliks ’n droëruiker uit Engeland aangestuur. Inwoners het eers in die vroeë 1960’s uitgevind die blomme is deur Swanston se eertydse verloofde gestuur. Sy het nooit getrou nie en elke jaar tot met haar dood seker gemaak daar is blomme op haar geliefde se graf.

Die blomlegging het so ’n instelling in Chrissiesmeer geword dat byna almal in die dorp dit jaarliks bywoon.

DSCN8456 DSCN8454

So het ons een ook een goeie dag op die perde-begraafplaas van Ella Gordon afgekom. Ella Gordon Dove Colston, is in Edinburgh Scotland gebore, op 18 Januarie 1873.

Beide Skotte, gebore in die laat 1800’s, beide met ‘n storie oor hulle grafte, besoek deur die MaanMense.

Ella Gordon Dove Colston, ’n merkwaardige vrou kom in die 1920’s as toneelspeler saam met ’n sirkus uit Skotland in Suid-Afrika aan en hier het sy wortel geskiet. Sy het as die “perdevrou van die Overberg” bekend gestaan vanweë haar liefde vir haar perde en honde en hoewel sy baie geliefd was, was haar seksuele oriëntasie vir baie mense ’n steen des aanstoots. Sy was ook bekend as “die vrou met die kruisbande” en het haar liefde vir Klara op die plaas Karwyderskraal uitgeleef.

Weggesteek op ‘n plaas op die Karwyderskraalpad naby die Hemel-en-aarde vallei, is die vreemde begraafplaas vandag nog te sien. In nege uitgemerkte blokke, kompleet met verweerde grafstene, rus Ella Gordon se geliefde perde. Slegs ‘n paar se grafskrifte is nog sigbaar:

Wickers. Trick Hors. Clever, good and true. Aurevoir old friend. From EGDC

Booysums the wonder horse, we shall meet to part no more
Polly my saddle horse good and true. Rest thy work’s done,”

In die hoek van die gewone begraafplaas, is nog ‘n vreemde graf, langs dié van Ella Gordon. Die steen is gebars en verweer, maar daar is nog ‘n paar woorde sigbaar. Woppy my dog Died Nov 17 Age 18 Yrs. We’ll meet to part no more. RIP EGDC

Dramaturg Charles Fourie het ‘n paar jaar gelede ‘n stuk op die planke gebring: Ella se perde. ”God se liefde is wyd, maar is dit wyd genoeg om honde, perde en lesbiërs in die hemel toe te laat?” was die tema van die stuk.

Stof is jy… En tot stof sal jy…

(Geïnspireer deur Kyker)

Advertisements