All the universe has got a sex-like quality about it. It is seminal and productive at the same time. The seeds of words produce ideas. The seeds of ideas produce goodness knows what. The whole blessed thing is male and female at one and the same time. In fact, the whole thing is pure sex. We’ve taken one aspect of it and called it sex, or made it self-conscious and called it Sex. But that was our own fault, wasn’t it? – Fynn, Mister God, This is Anna

Hierdie is na aanleiding van gister se gesprek op Facebook. Ek het gesê:

Die see is damplat en vriesbrandkoud, en dis net ek en die Franse tannie wat dit aandurf. Ons is ongeveer ewe oud, en dieselfde bou en skades op ons lywe. Ek met my boobe en boude bedek in ‘n rispiktawele swembroek, en sy met in ‘n panty en wit toppie, wat sy tot by haar nek optrek om die water óral te voel. Daarna gaan sit sy so by die restaurant op die dek en trek by die tafel weer aan. Net so. Ek wens ons kon ook so lewe.

Van die kommentare was:

Hugo van Zyl: Laat dit vir ons pretensie ‘n les wees! Eks te skaam vir my eie swembad! En dan sien ek vrind Stoffel swem met krukke en dan voel ek so skaam….vir my kopskade!

Maryke Van Rensburg: Ai, partykeer wens ek ook dat ek die klere kan afgooi en net wees … great dat sy die selfvertroue het.

Magda Odendaal: Dis oor ons in daai silent era grootgeword het. Mens praat oor niks, en naaktheid word iets lelik. Ons is heeltemal te bewus van hoe mense lyk. Die Europeers het geen skaamte nie, dis vir ‘n ou omie niks om vlak voor jou sy klere uit te trek en sy speedo aan te trek nie. Of ‘n beplooide tannie waar gravitasie reeds geweldige skade gedoen het, onder die stort te gaan staan en uit te trek nie. En dis seker hoe dit moet wees. Ek is heeltemal te skaam daarvoor, maar dit lyk altyd vir my so bevrydend.

Daar was wisselende menings oor die aanvaarbaarheid van vet en rolle en ou lywe op die strand, maar ek is lankal verby die stadium waar ek my steur aan die artikels in tydskrifte en advertensies wat net pragtige jong lyfies op die strand wys. Die meeste mense het gewone lywe, met skade van son en swangerskappe. Een en elke mens het die reg om op die strand te loop! Middeljarige bolletjie of te nie. En as ek wil laf wees saam met my dogter en kleindogter, dan doen ek dit. Op hierdie dag het ons mekaar afgeneem, en omtrent op die sand rondgekruip soos ons lag. Wie sê net mooi jong meisies mag pret hê op die strand?

Skud af daardie selfbewustheid, skud af die skaamheid, skud eerder die boude!

 

Advertisements