Sleutelwoorde

, ,

Oorlog is waansin en verraad is ’n stukkende woord. Dit sê eintlik alles.

Ons het gister Verraaiers gaan kyk, en dit het my diep ontroer. Dit het die werklikheid van die verskrikking van die Anglo-Boereoorlog waaroor ek voorheen geskryf het, verder bevestig.

Daar is soveel aspekte van menswees aangeraak, en daarom kyk ek eerder hoe dit in die fliek uitgekom het, as die storie en onoortreflike spel self.  Dit is ‘n absolute aangrypende uitbeelding van ‘n verskriklike tydperk  in ons geskiedenis. Hierdie fliek staan vir my, saam met Die Wonderwerker,  sy aan sy met die beste oorsese kunsflieks van bekende vervaardigers.

Keuses wat gemaak moet word. Keuses is nooit maklik nie, en as mens voor ‘n keuse te staan kom, is dit nie altyd ‘n Maklik-Moeilike keuse nie. Dikwels is dit Moeilik-Moeilik. Niemand kan die gevolge van ‘n keuse voorsien nie, en dikwels is die gevolge van ‘n keuse hartverskeurend, al was dit op daardie moment die beste keuse onder die omstandighede. ons moet net altyd bly glo dat dit tóé die regte keuse was, en dat ‘n ander keuse nie noodwendig beter gevolge sou hê nie.

Perspektief. Alle gegewe situasies is eintlik neutraal, dit hang af van jou eie perspektief, hoe jy na die situasie kyk, aan watter kant jy staan. Ons bid in Afrikaans vir die oorwinning en die Engelse bid in Engels vir die oorwinning. Tot dieselfde drieënige God…

Ego. Afrikanertrots. Koppigheid. Ego. Baie mense se ondergang. Dit het in die verlede gelei tot baie lewensverlies. Wie wen op die slagveld? Wie wen in enige konfliksituasie?  Die werklike lafaard is die een wat nie kan erken hy het verloor nie.

Verraad. Verraad sluit eintlik aan by perspektief. Dit kan positief of negatief wees, afhangend van die situasie. Daar is ook keuses wat gemaak moet word, en wie verraai vir wie, tot wie se voordeel? Die verraaier, die anti-held, die hensopper. Is hy uiteindelik die held?Verraad lyk elke keer anders, as jy uit ‘n ander hoek kyk.

Verlies. Die verlies van ‘n ongebore baba. Die verlies van vertroue. Die verlies van onskuld. Die verlies van lewens. Verlies is so ‘n deel van ons lewe, wat geïntensifiseer word in moeilike en oorlogstye. Die verwerking van verlies  is wat ons laat groei, wat van ons mense maak wat uiteindelik die beste keuses maak.

Want in oorlog is daar nie regtig wenners en verloorders nie. Nie op die slagveld nie. Daar is net slagoffers en die wat bly lewe met die littekens van dit wat hulle ervaar het en gesien het. (Son)

Lees asseblief  Son se blog hieroor.

Advertisements