Sleutelwoorde

Ek weet alles verander. Klere, skoene, meubels, skilderye, rygoed, noem maar op. Alles gaan taamlik vinnig deur stadiums van giere en grille. Klere en skoene gaan ook in siklusse. As ek byvoorbeeld dink aan die platformskoene en Gap-jeans met die wye pype wat ons in die vroeë sewentigs gedra het – my tydgenote sal onthou – daardie selfde platforms kom elke 10 jaar of so vir ‘n seisoen of twee terug. Iemand lag nou die dag oor haar ‘groot’ hare van die tagtigs, toe reken ek oor tien jaar lag ons vir nou se slierte.

Een ding wat stadiger verander het, is beddegoed. As kind het ons grootgeword met twee gewone wit katoenlakens (paslakens het nie bestaan nie) met ‘n kerspitdeken bo-oor. Tussenin was dan komberse, afhangend van die seisoen. Elke kind het elke week net een skoon laken gekry. Die bo-laken is dan as onderste laken gebruik, en die skone kom bo. Later het geblomde lakens gekom, met sulke gladde, deurgestikte blinkerige dekens, met so ‘n val. Pres-Les.

Toe kom duvets, in die middel sewentigerjare. Een paslaken, met ‘n duvet bo-oor. Vinnig en maklik, min werk. Geen wonder dinge het in omtrent dertig jaar min verander nie, behalwe die kleure en ontwerpe.

Maar wat het toe gebeur? Elke bed word oorgetrek met wit of room percale beddegoed, bolakens word weer opgesit en  ‘n klomp onpraktiese blink kussinkies wat jy moet afgooi as jy slaap en so ‘n snaakse blink throw wat op die voetenend lê (wat maak mens daarmee?) rond die bed af. Ons was terug by plein wit katoenlakens en blink toebehore! Nou sien ek blomme is weer die in-ding. Al die borduurstroke, wafelweef, opnaaisels en piping is darem regtig onprakties om mee te slaap, hoewel mooi!
Hierdie was ons Triple-sheeting bed in Las Vegas. Die kamer was baie groot.

Hierdie was ons Triple-sheeting bed in Las Vegas, in die Paris Hotel. Alle dubbelkamers waarin ons gelaap het, het King beddens in.

Nog ‘n ding wat sy kop uitsteek, is die Triple-sheeting. Ons het verlede jaar in Las Vegas in die Paris Hotel met al daardie lagies geslaap. Voel en lyk luuks, as jy ‘n stil slaper is. Maar liewe genade, ek weet my werk is to Chop wood en Fetch Water vir ons gastehuis, maar dis gelukkig nie ons mark nie. Ek dink mense skrik hulle dood as die kinders met sandvoetjies en nat boude van die strand af inkom en hulle sien sulke beddens.

Vertel my van jou beddegoed – wat wil jy, en wat wil jy nie?

Advertisements