Die Wetenskap is besig om my te drop! Die afgelope tyd voel ek so ontnugter, nou weet ek nie of ek te veel verwag het in die lewe nie.

Ek meen regtig, hier sit ek en praat met ‘n toestelletjie so groot soos my handpalm gelyktydig met my kind in Amerika, en ‘n paar susters en hulle kinders. En tog.

Dit voel of die mediese wetenskap op verskeie maniere te vinnig vorder, as mens sien wat alles moontlik is, hoe mens ‘n hartoperasie op ‘n rekenaar en met laser kan kry. Met nanotegnologie bou hulle goedjies op subatomiese vlak. Hulle kan alle moontlike en onmoontlike 3D en 4D sonars en scans doen. En tog sit ons met nie net een nie, maar twéé Diagnostic Dilemmas (klomp spesialiste se terminologie, nie myne nie!) in ons nabye familie. Nogal twee jongmense. Okei, ‘n jongerige vrou, en ‘n kind. Briljante mense.

Mense word siek en sieker en siekste, en is op suurstof 24/7 en spesialis vir spesialis doen toetse en scans en x-strale en nog wat en trek genoeg bloed dat hulle sou kon deurgaan as bloedskenkers. En steeds trek hulle hulle skouers op en sê hulle weet nie! Dit lyk my elke spesialis dink net in sy kompartementjie.

Of is daar vreemde siektes wat nog ontdek moet word? Muteer die goed? Hoekom sukkel hulle so met diagnoses? Of is daar vroeër jare maar net makliker en dalk verkeerdelik gediagnoseer?

Verwag ek te veel? Gaan ek beter voel as daar ‘n naam gegee word aan ‘n ding? Die wetenskap kan Fibonacci nommers beskryf, maar nie verklaar hoe en waarom dit so in die natuur voorkom nie. Hoekom word heuning nie sleg nie? My kop is lam gedink en nou gaan ek direk slaap voor ek verder wonder en begin dink die aarde is dalk plat, want dis wat ek kan sien.

Advertisements