Soms pak mens mos ‘n ding aan sonder om te dink. Soms werk dit. Soms nie. Hierdie projek het ek glad nie bedink nie, dit het net so half vanself gebeur. Soos al die belangrike dinge in my lewe sommer so self gebeur. Ek is allesbehalwe ‘n impulsiewe mens, maar die lewensveranderende besluite van my lewe neem ek so. Intuïtief. Sonder om te dink. Soos hierdie een ook, wat my gebring het waar ek vandag is, om my in staat te stel om te doen wat ek nou doen.

My Kort vir jou Sop is dalk nou nie lewensveranderend nie, maar wie weet? Dalk verander dit iewers iets vir iemand anders. “n Klein dingetjie dalk, wat ‘n besluit beïnvloed, om iemand se lewe ‘n ander rigting in te stuur. Daardie rimpeltjies van die klippie in die dam, nè?

Heelwat mense het waarskynlik al gehoor van die liefdadigheidbundel, My Kort vir jou Sop. Verhale van ons land se beste skrywers is in die bundel opgeneem, asook talle dubuutskrywers. Daar is meer as honderd verhale, deur ses-en-sewentig skrywers.

In ʼn artikel in die Boeke bylaag van Sondag se Rapport, skryf die skrywer Marion Erskine: “’n Hele paar debuutskrywers se kortverhale is van so ’n hoë gehalte dat die uitgewers rustig kan slaap oor die toekoms van die Afrikaanse literatuur. Daar is ongelooflike talent en die taal is beslis aan die brand. Hierdie is die eerste groot Afrikaanse skryfprojek vir liefdadigheid en ’n mens wonder waarom niemand al voorheen hieraan gedink het nie.

Al die opbrengste van die skrywers se tantième gaan aan die plaaslike sopkombuis in Kleinmond en Boekemakranka – Trisa se e-boek-uitgewery – se gedeelte gaan aan die Vriende van Kleinmond Biblioteek vir boekaankope.

Die bundel se temas loop wyd. In ’n onderhoud vir die Lekkerlees Boekrak-groep op Facebook beskryf  Trisa die temas as “… so gebalanseerd soos die lewe self: humor en hartseer; pyn en patos; weerloosheid; vreugde; en verbetenheid om sin te maak van die lewe”.”

My Kort vir jou Sop is aanvanklik net in e-formaat uitgegee en is beskikbaar by Amazon, Kalahari, Leserskring, MyBooks en Kobo.

Op publieke aanvraag is die gedrukte boek ook nou beskikbaar. Al die skakels waar die boek te koop is, is op Boekemakranka se webtuiste.

Kort

Die boek verkoop fluks, hoor! ‘n Vriendin skryf op Facebook: laat weet: “Trisa, die poskantoor in Kleinmond wonder of jy nog baie koeverte gaan koop. Hulle moet hulle bestellings aanpas. Ek het sommer ja gese, hulle moet nog bestel. Ek het maar net toevallig jou naam gehoor en my ore gespits. Jy weet mos. Dadelik besef dis die boeke wat so verkoop.”

How nice is that? The joys of living in a small town!

 

Advertisements