Skielik besef ek waarom ek deesdae ‘n Happy Heart het. Ouderdom bring dalk pyne en plooie, maar noudat my lewe so is dat ek bietjie dinge kan doen net omdat ek wil, en nie meer my lewe so rig om alles te doen omdat ek móét nie, het my hart ook verander. Ja ek weet, as mens kinders het en jou hele beroepslewe lê nog voor is dinge bietjie anders, en doen jy baiemaal dinge omdat jy moet.

Hierdie projek van Boekemakranka is ‘n sprekende voorbeeld daarvan. Dit werk net eenvoudig. Ek dink ‘n groot rede is omdat ek dit doen omdat ek wil, en nie moet nie.

Maar wat beteken dit om Happy te wees? Gelukkig en tevrede te voel met wie jy is, met wat jy het, met waar jy is. Dis ‘n gevoel wat mens regtig moeilik beskryf, en eers as jy dit gevoel het, kan jy verstaan wat ek probeer sê.

Een goeie dag toe my vriendin Marian bel, sê sy ek moet harder praat, sy kan my nie hoor nie. Ek sê toe ek kan nie harder praat nie, my keel is rou en seer. Ek is siék. En hoeveel simpatie kry ek? Sy reken: Ag ’n seer keel is fokol, jy kan ’n Disprin drink, maar sê my, Is jy Happy?

Wat ’n inspirerende gedagte was dit nie! Sy koop ook mos eendag vir my so ’n klein pienk verestoffertjie in Oudtshoorn doer aan die heel begin van die KKNK en sê dis om al die kak in my kop af te stof. Daardie stoffertjie het lank reeds vergaan, maar stof steeds menige dag my kop skoon…

Soek vir julle sulke vriende soos Marian. Al vloek hulle.  Hulle laat jou lag, en lag is gesond.

Miskien is dit ‘n klomp klein dingetjies wat saamwerk om die Happy Heart te vorm. En hoe ouer mens word, hoe meer goedjies is daar wat saamwerk.

Madeline L’Engle het tereg gesê: The great thing about getting older is that you don’t lose all the other ages you’ve been.

Maar nietemin, more verjaar ek, en alle blomme, sjokolade, syserpe, boeke, CD’s en dergelike dingetjies kan hier gelaat word… Die feit dat ek nou báie nader aan sestig is as vyftig, beteken net ek ken soveel meer mense wat more gawe goed oor my gaan dink.

Advertisements