Natuurlik wil Willemina wals… Natuurlik is ek klaar spyt dat ek mense genooi het om vir my ‘n onderwerp te gee om oor te skryf, want hulle het die onmoontlikste goed gaan uitdink. Ek vermoed dié wat iets voorgestel het, lees my gereeld.

Lidia het gevra: Moet jy dan nie juis oor dans skryf nie. Juis omdat dit nie maklik sal wees nie. Dalk was daar ‘n keer wat jy gewens het jy kon dans. (Dit nou omdat ek gewaag het om te sê: Moet my nou net nie vra om oor dans te skryf nie, want ek kan nie dans nie. Kon nooit.

As plaaskind in die jare sestig, het ek nooit eers gesien hóé dans mense nie. Ek onthou op my een tannie se troue het ek vir die eerste keer gesien hoe word gedans, maar ek was seker so 3 of 4. Daarna nooit weer nie. Ons was Doppers, sien. En Doppers dans nie. Nie daardie jare nie. Daar was die hotel waar die mense soms gaan dans het, maar ons Doppers het nie eers geweet hoe, wat en waar nie. Ons het speletjiesaande by die JV (Jongeliede Vereniging) gehad waar ons leer vry het.

Op hoërskool het ons eenmaal sonder my pa se medewete op ‘n niggie se huispartytjie gedans, maar dit was los dans en het nie veel vernuf geverg nie, elkeen het maar beweeg soos hy wou. Oor daardie ervaring het ek ‘n stukkie geskryf wat iets op Radio Suid-Afrika gewen het, dit was voorgelees en ek het ‘n posorder van ‘n volle R5 daarvoor gekry! Dit was baie geld. Ek moes my suster die helfte gee vir haar stilswye oor die dansery, en ek het vir myself Amper net sulkessulke hippierige leersandale met sulke metaalringe gekoop met my R2.50. Dit was inderdaad die eerste keer wat ek betaal is vir ‘n stukkie skryfwerk, en daarom baie kosbaar. En natuurlik moes my ma-hulle geweet het, hulle het maar seker net saamgespeel.

Dan was ek natuurlik op hoërskool ook nie miss Sunshine nie, en is ek ook nie juis genooi na garage paarties toe nie. As ek genooi sou word, sou ek seker buitendien nie kon gaan nie.

Toe kom die bokjolle van die sewentigs. As studentverpleegster was daar gereeld bokjolle in ons koshuis, maar ek het dit sorgvuldig vermy. Teen daardie tyd was ek doodskaam, ek was te jonk die lewe in. Sestien. Ek het sosiaal swakkerig gevaar en ek het nie ‘n idee gehad hoe die meisies so gemaklik kon regmaak en aantrek nie. En dan gaan dáns nie.

Een goeie aand het ek my misgis. Ek het meegevoer geraak in ons klein bibliotekie, en het gesukkel om net twee boeke te kies. Teen die tyd wat ek gereed was, het die musiek reeds weergalm, en moes ek D E U R die klomp dansendes loop om by my kamer te kom. Berge val op my, heuwels bedek my. Ek onthou een meisie, so swartkop met ‘n mooi glimlag, met ‘n lang goudgeel rok, wat swierig swaai en tol. Ek kon nie glo dat sy dit net kon doen asof dit niks is nie.

Ek het met my twee boeke (I’m OK , You’re OK van Thomas Harris en so dik hardeband Engelse een met so dofgroen Victoriaanse vrou op die omslag –  The Countess Angélique) die twee kilometer kantlangs deur die saal gestap. Dis net, toe het ek nie die ironie van die titel I’m OK , You’re OK, raakgesien nie.

So het ek toe nooit leer dans nie, en was altyd met troues en so in ‘n moeilike situasie. Mans wou verdomp nooit hoor dat ek nie kan en nie wil dans nie. Seker maar die ego-ding, en dit was altyd ‘n fiasko. Dit was lekker om te kyk hoe dans mense, maar leer, kon niemand my geleer kry nie. So het ek getrou met MaanMan, wat my twee linkervoete getroef het, met twee agterstevoor linkervoete. Ons het op ‘n stadium gegaan vir danslesse, maar die vrou het my subtiel gevra om nie weer te kom nie. Vir jare en jare het ek ‘n kompleks gehad oor die dansery.

En nou? Nou lag ek lekker as ek dink – I’m OK , You’re OK…

 

 

Advertisements