Do what you do do well boy
Do what you do do well
Give your love and all your of heart
And do what you do do well

So het Ned Miller in 1965 gesing, en dit het vir my nou nuwe betekenis gekry.  Ek het mense genooi om vir my ‘n onderwerp te gee om oor te skryf, en die liewe Kameel het gevra: As jy kon teruggaan in die lewe, is daar ‘n plek waar jy ‘n ander pad sou kies as die een wat jy geneem het?

My eerste reaksie is Nee. Al die dinge wat oënskynlik gelei het tot ‘n moeilike tyd, het my gelei op ‘n pad waar ek vandag is. Ek is absoluut gelukkig en tevrede met my lewe, met wat ek doen en waar ek is. (Geografies en eksistensieel). Ek glo een van die redes is omdat ek die voorreg het om te kan kies wat ek doen. Ons werk baie hard wanneer ons werk, maar het ook baie vrye tyd. Al is die fisieke werk nederig, doen ek dit wat ek moet doen met ‘n lied in my hart en met lus in my lyf.

As ek egter nadink, dink ek tog ek moes ‘n ander keuse gemaak het op vier. Ek moes nie so om my ma se ore geneul het om skool toe te gaan nie. My nuuskierigheid en leergierigheid het my duur te staan gekom.

My bitter beker in die lewe was om te skip.

Nee, nie touspring nie.

Vanmelewe (dankie ouma, ek hou van die woord!) kon ons skool toe gaan as jy in die eerste helfte van die jaar ses word. Ek het dit net gemaak en is op vyf-en-’n-half skool toe omdat my ma my gekerm by die huis nie meer kon verduur nie. Ek wou lees.

Die eerste dag is ek sommer met die bus skool toe, met streng vermaninge aan my ma om nie te tjank as sy my gaan inskryf nie. In die klas was ek oorgehaal, waar is die boeke? Sus en Daan het ek immers reeds uit my kop geken, saam met ousus leer lees. Ek was bitter ontsteld toe net klei uitgedeel is. Paula het dit nog uitgedeel, sulke klipharde vaal klei. Hulle het my toe maar ‘n paar weke later in Graad 2 gesit. Gespring het ons dit genoem. Geskip.

Toe was dit reg.

Maar ek het dit vir die res van my lewe berou.

Het jy enige idee hoe dit voel…

… as jy nog sokker speel en jou maats begin agter hulle hande giggel?

… as jou maatjies almal bra dra en jy wonder hoekom bly jy plat?

… as jou maatjie een goeie dag voor jou ‘n pad uithaal en jy absoluut geen idee het wat dit is nie?

… as die hoof die die eerste dag in die hoërskool vra, wie is twaalf, hande op. ‘n Klompie. Dertien? Die meeste. Veertien? Nog ‘n klompie. En ‘n paar vyftienjariges. Ek dan later kwaad raak as sy getalle nie klop nie en hy brul, Wie het nie sy hand opgesteek nie?

Ek meneer

Hoekom nie? Hoe oud is jy?

Elf meneer

en in die aarde wegsak, voor 1556 kinders

… as jou vriendinne vry en later van gemeenskap praat (dis hoe ons seks genoem het)

… die dag (al as student) toe jou vriendinne jou nie wou saamvat iewers heen nie, omdat hulle ‘goed gaan doen waarvoor jy nie reg is nie? Ek weet nou nog nie, oorslaap by die mans, dagga rook, drink? Dit pla my.

… as jy jou lewe lank die odd one out was, omdat jy nie emosioneel opgewasse was vir jou portuurgroep nie?

… as jy as grootmens jou lewe lank probeer kompenseer deur te wil wen?

Gelukkig het ek lankal geleer dat daar baie mense is met meer talente as ek, baie slimmer mense wat baie dinge baie beter as ek doen. Ek het geleer om te ontspan. Maar op ‘n manier is ek steeds die “jongetjie” –  grys hare en al – tussen die afgetrede klomp hier in Kleinmond – ‘n aftreedorp…

Miskien moes ek oorkompenseer, maar ek het geleer:

Do what you do do well boy
Do what you do do well
Give your love and all your of heart
And do what you do do well

Advertisements