Dis een van die moeilikste goed wat iemand my nog gevra het: Vertel ons van ‘n insident waar jy nie met integriteit opgetree het nie. Dis nou Korrelkop Kahuna wat my op hierdie kolletjie sit waar ek al in die rondte dans, maar uitkomkans is daar nie. Ek sal moet vertel. Want ek het gevra. En soos hy tereg sê: Integriteit is dit wat jy doen wanneer jy dink niemand sien jou nie.

Ek het al gesteel. Op skool. Ek moes eers lank en hard dink om iets te kry waar ek in my hart weet ek het verkeerd gedoen, nie met integriteit opgetree het nie, maar dit klink so goody-goody om dit te sê. Tot ek aan twee insidente op skool gedink het. En toe besef ek, dit kou nog al die jare aan my. Dit sit iewers in my agterkop, en as ek daar roer, dan weet ek ek het iemand benadeel. En waar bieg mens nou?  Vir wie vertel jy dit? Dalk het Katolieke dit maklik, want as jy dit eers aan jouself en aan ander erken het, glo ek kan jy jouself vergewe en dit agterlaat.

Die een keer het ‘n paar van ons die roomysverkoper se aandag afgetrek, en van sy roomyse gesteel. Ek het nooit daaraan gedink dat hy dit waarskynlik self sal moet inbetaal nie. Die ander keer het ‘n standerd ses meisie wat in die snoepie gewerk het, vir ons doelbewus te veel toffies en chips gegee, dan het ons met ‘n handvol sente betaal. ‘n Paar maal. Sy wou graag in wees by my vriendinne (Ek was nie die cool een nie. Ek wou seker ook in wees by hulle.) Ons was wel arm, maar dis nie asof ek nie ‘n paar toffies kon koop as ek lus was daarvoor nie. En dis nie hoe ons grootgemaak is nie.

Ek weet nie watter grade van verkeerd en van nie met integriteit opgetree nie aanvaarbaar sou wees vir Kahuna nie, want ek moes sekerlik baie dinge in my lewe gedoen het wat ‘verkeerd’ was in ander se oë. Maar hierdie twee goed het my oor die jare gepla. En ek is regtig jammer ek het dit gedoen.

Die Burgemeester se melkbekertjie

Die Burgemeester se melkbekertjie

Daar was nog iets wat ek gesteel het. As grootmens. Maar snaaks genoeg voel ek nie sleg daaroor nie. Ek het hierdie melkbekertjie een aand tydens ‘n formele funksie (sien vorige pos) uit die Burgemeester van Johannesburg se kantoor gesteel. Waarom weet ek nie regtig nie. Ek en ‘n vriendin het ons blink aandsakkies gevat om te gaan ‘neus poeier’ soos dit toe genoem is, en het bietjie afgedwaal en gaan loer hoe lyk die Burgemeester se kantoor. En toe neem ons elk ‘n aandenkinkie. Waarskynlik as ‘n soort rebellie teen die formele funksies waarheen ons ons mans week na week moes vergesel.

Maar dis nie waaroor hierdie inskrywing gaan nie.

Love all, trust a few, do wrong to none.  ~ William Shakespeare

Edit: Dis ongelooflik hoe dinge tegelykertyd gebeur. Gister het ek hierbo geskryf oor bieg en regmaak na baie jare, en vandag kry ek ‘n oproep. Iemand het my verskoning gevra vir ‘n insident wat in 1975 gebeur het, toe hy hom onnodig vir my gewip het. In 1997 het hy ‘n NDE gehad, en in die tyd wat hy ‘dood’ was, het hy ‘n boodskap gekry dat hy moet regmaak met my daaroor. Die insident was so onbenullig dat ek dit aanvanklik glad nie onthou het nie, maar toe hy by die detail kom van wat ons geëet het daartydens, kon ek vaagweg onthou. Vir jare na die NDE het dit hom gepla en selfs ‘n invloed gehad op sy idee oor sterflikheid en die dood, en vandag kon ons saam lag daaroor. Maar die synchronicity dat ek gister dieselfde gedoen het, verstom my. En hy het nie hierdie gelees nie…

Luister asseblief ook hierna:

Advertisements