Sleutelwoorde

, ,

Die allergieë loop dik in ons familie. Iewers is daar iets in ons sisteme wat kort om alles wat ons eet behoorlik te verteer. Ek is baie gelukkiger as my kinders en sommige van my susters. Vir my was dit van babadae of rou melk. Nou is dit so dat ek ook nie meer eier kan eet nie. Nie eers ‘n happie van iets wat eier bevat nie. Die vreemde ding is dat dit ongeveer saamgeval het met die tyd toe hulle begin het om eiers teen salmonella te bestraal, maar nietemin. Laat ek nou nie kosvervaardigers en verspreiders begin beskuldig van chemiese goed wat ons nog gaan doodmaak nie…

Die sondebok! ‘n Paar krummels wat aan die versiersel vasgesit het was genoeg…

Gister het MaanMan ‘n lekker sny tjoklitkoek gehad, en soos altyd, die versiersel vir my gegee. Ek is mos darem nie allergies vir ‘n ou soetigheidjie nie. Helaas het daar ‘n paar krummels aan die versiersel vasgesit. Ek moes seker geweet het…

Vanoggend het ek wakker geword met die resultaat – ‘n Migraine wat sy hande so om my agterkop slaan en bevoel en frommel en vat, en daardie strikkie gemaak van staalbandjies al hoe stywer trek, totdat die pyn so in my gesigbene nesmaak, my wangbene skeeftrek en die stomp hamertjie bokant my regteroog so saggies en aanhoudend kap. Die naarheid wat net-net nie opgooi-erg is nie.

Nou het ek al uitgevind hoe om mr M so hok te slaan dat ek nie Migril hoef te drink nie.

Eers masseer ek my kopvel en nek lekker warm met my infrarooi masseertoestel, dat die spiere ontspan. Dan was ek my kop in warm water, so warm as wat ek kan uitstaan. Dan die geheim. Dan druk ek my kop in yskoue water, en spoel my nek oor en oor in die koue water. In die somer drapeer ek ook ‘n gevriesde handdoekie om my nek. Dan is dit asof daardie staalstrikkie losgetrek word. Dit klink vreemd, maar terselfdertyd burp ek, net soos wanneer die Migril sy werk doen. Ek wonder altyd wat sou die verband wees tussen seer gebeentes wat terselfdertyd skietgee, en die burp, en mr M wat op sy herrie kry.

So ‘n eier migraine hou dan vir die res van die dag nog so dofweg aan. Ek kan funksioneer, maar ook maar net. (Of kies om Migril te drink wat die pyn wegvat, maar my dan vir 2 dae aaklig laat voel)

Vandag het ek toe nou iets ontdek wat vir daardie dowwe oorblyfsel help – Die Serrapeptase wat ek drink vir die ellendige PHN wat ek oorgehou het na die Gordelroos, het na 5 minute gewerk. Dit is die proteolitiese ensiem wat sywurms gebruik om hulle kokonne op te los as dit tyd is vir die papie om in ‘n mot te verander. Ek raai die anti-inflammatoriese werking verminder dalk die swelling en die pyn.

Sywurmspoeg, mense, sywurmspoeg!

Disclaimer: Hierdie is net wat vir my werk, vir my lyf, met my eie reaksie op my eie allergie, en is nie bedoel as mediese raad nie. Ek neem geen verantwoordelikheid vir wat enige persoon met hierdie inligting maak nie.

 

 

Advertisements