Mens het mos ‘n talent vir ‘n ding, of jy het hom nie. ‘n Aanvoeling. ‘n Gawe. Jy kan ‘n ding doen, of jy kan nie. Aanlegtoetse stuur kinders die lewe in in ‘n rigting wat hulle beroepskeuses bepaal. Party mense kan met baie oefening ‘n ding perfek doen, al het hulle nie die aanleg of die talent nie. Maar wanneer iemand se passie ook sy aanleg is en so ‘n mens het die tyd en vermoë om daaraan af te staan, dan gebeur daar mos iets wat net sigbaar is. ‘n Soort magic.

Nou ons is mos ‘n groot gesin, en die helfte van die talente is nie aan jou vertel nie. Trourokke en sulke dinge. Beskuit- en broodbak wat volpunte sou kry by die VLV. Dis nou nie ek nie, nè? Ek kan ‘n paar goeters doen, maar fynvat die kan ek nie. Hier in die laat 80’s het ek en ‘n paar mede-navorsers by die RGN een goeie dag gespeel met toetse. En daar dop ek die skoolgereedheidstoets vir koördinasie… Dit was die enigste ding wat ek ooit gedop het, behalwe my bestuurslisensie, en my scooterlisensie. Alles koördinasiegoed (Ironies genoeg het ons op aanlegtoetse gewerk, dit ontwikkel, gestandaardiseer en gerekenariseer).

As jy nou die skakel hierbo volg, sal jy sien dat sus Slakkelak die mooiste goed kan maak, en sy het gevra dat ek die voorbeelde van goedjies wat sy vir my gemaak het vir haar fotografeer, al haar goed het mos gebrand. Nou sit ek dit sommer hier op, dan kan sy dit hier kry. Wat sy nie bygevoeg het nie, is dat sy vir my twee van die mees spesiale goedjies ooit gedoen/gegee het, en ek voeg dit sommer hier by. Die dag van my trek na my egskeiding in 1987, het sy my twee dogtertjies kom haal, dat hulle nie aan die trauma daarvan blootgestel word nie. Sy het vir hulle so piepklein blou potjie laat koop vir my nuwe woonstel, om hulle ook deel van my nuwe lewe te laat voel. Dan het sy vir ons Kleinmond-huis ‘n spesiale stringetjie gemaak, wat my lewe verteenwoordig. Van bo af is ‘n peul wat kom van die doringboom by die plaashuis waar ons gebrore is, en heel onder ‘n kristal, vir self-aktualisering. Elke dingetjie op die string verteenwoordig ‘n fase van my lewe. Dit hang in so moeilike hoek waar die trap sy draai maak. Goeie Feng Shui.

Is dit spesiaal, of is dit spesiaal?

Maar nou ja, ophou speel en begin woeker…

Advertisements