Sleutelwoorde

,

Vandag was die dag wat ek toe nié die fietsklokkie wat Braam laasweek vir my gebring het vir my pienk fiets, in die kerk getrieng het nie. Nie uit respekte of enige iets nie, maar omdat die geluid te piffierig was.

Dit was toe moeiliker om in die kerk te praat as wat ek gedink het, omdat die familie reg voor my gesit en in my oë gekyk het. Hulle rou smart gemeng met ander emosies en kopknikke wanneer ek iets toepaslik sê, het my laat besef die woorde uit my mond is baie groter as die mond waaruit dit kom. Ek is dankbaar ek kon die instrument wees waardeur ‘n laaste huldeblyk aan Braam gedoen is.

Braam le Roux was een van die heel eerste mense wat ons 11 jaar gelede in Kleinmond leer ken het. Die manier waarop hy aangebied het dat John na ure by Die Stoor kan kom aanklop as hy iets nodig gehad het, was tekenend van ons verhouding met hom oor die jare. Behulpsaam. Vriendelik. Altyd bereid om te help.

Sy liefde vir reis het hom oor oseane en fietsrypaaie geneem, na eilande en vastelande. Baie van julle hier was deel daarvan. Veral Christelle.

Hy was besonder lief vir fietsry. Die stigter van Kleinmond se fietsryklub. Die ryer van die Argus, of dit die jaar is wat dit so koud was, die jaar toe dit so warm was, of die jaar toe die wind so gewaai het. Die laaste maande van sy lewe het hy gewy aan ʼn projek om Murray se spiere en koördinasie deur fietsry weer op te bou op die tandem. Ek is daarom dankbaar dat dit ook sy heel laaste aktiwiteit was. ‘n Fietsrit saam met Carol en vriende Martin en Danie.

Sy liefde vir musiek het ook ʼn versugting en verlange na vreemde plekke gewys. Hy was veral lief vir musiek uit Noord-Afrika. Sy musiekhart het geklop op Afrika-ritme, sy reisskoene het op ver stofpaaie geloop, en sy fietsbande het gebreek op plekke waarvan ek nog nie gehoor het nie.

Braam was ʼn gemaklike mens. Informeel. Dit sou vir my onvanpas wees om formeel sy goeie hoedanighede te besing, daarom praat ek oor hom soos ons verhouding met hom was – gemaklik en informeel.

ʼn Paar van my familielede uit Gauteng het vir Braam ontmoet. Een van my susters vertel nou nog van die mense wat voor ontbyt kom kuier het, terwyl sy nog in haar pajamas was. Nog ‘n familielid wat hom onthou, is my dogter en skoonseun. Onderweg na ons vir ʼn verrassingsbesoek, het hulle voertuig gebreek, en ons moes hulle gaan haal in Riviersonderend en het ʼn sleepwa nodig gehad. Vir wie het ons gebel? Braam.

Hierdie foto het ek drie weke gelede op Facebook gehad - The joys of living in a small town, as vriende met hulle slippers inval, en bly vir ete.

Hierdie foto het ek drie weke gelede op Facebook gehad – The joys of living in a small town, as vriende met hulle slippers inval, en bly vir ete.

Nou Braam was altyd welkom, voor ontbyt, en voor of sommer tydens aandete. Dit was ʼn plesier om vir hom te kook, hy het werklik plesier aan kos gehad. Hy was tuis in ons huis. Tuis genoeg om self brood te vat. Een van my gunstelingfoto’s is een wat onlangs geneem is van twee paar voete in pantoffels op ons koffietafel. Carol se netjiese paar pienkes, en een enorme paar bloues. So was Braam. Gemaklik genoeg in sy eie vel, dat hy sommer met sy pantoffels aan kon inloer, en dan bly vir ete. Dit was juis die aand, met pantoffelvoete op die koffietafel en rooiwyn in die hand, wat ek besef het dat Braam gereed was om te gaan. Hy wóú praat oor hoe hy sy eerste hartaanval en die probleme daarna beleef het, oor verganklikheid, sy eie verganklikheid, oor die dood, en wat daarna. Braam wás gereed. Die tyd was reg.

Hy het indrukke oral gemaak. Trymore van Zimbabwe, ʼn swart schoolmaster, het om die vuur by hulle gesit en gesels waar hulle op die skoolterrein gekamp het: We shall remember him everyday and every night as a family here. We are really touched. He was and is still our friend. Een van die ander swartes in Zimbabwe het sy seuntjie ook na Braam vernoem.

Oor Braam die jagter het ons baie staaltjies gehoor.

Vir julle was hy: ʼn Seun vir tannie Essie, ʼn broer vir Estra en Christelle, ʼn sielsgenoot vir Carol, ʼn oom vir Bernard en ʼn werkgewer. Vir ons was hy ons vriend.

Wat het ek persoonlik van Braam geleer? Prioriteite. Kyk wat in jou lewe maak jou gelukkig. Dan doen jy dit. Dan was hy ʼn ryke bron van useless (en soms useful) information. Dit was heerlik om met hom te gesels oor enige aspek van die lewe, en ook die dood. So het ons by hom vir die eerste keer gehoor van ʼn Moonbow, en kon ons dit herken toe ons die voorreg gehad het om dit te beleef.

Ek wil afsluit met ʼn paar woorde uit ʼn liedjie geskryf deur Nazareth. Dit is die heel laaste liedjie wat ons saam met Braam en Carol geluister het, en weer oorgespeel het. Ironies genoeg is dit vir my baie toepaslik op Braam se lewe. Dit is terloops ook die dag wat hy op my lessenaarstoel gesit het, en die stelmeganisme het nooit weer daarna behoorlik gewerk nie, Braam was darem so biétjie groter en swaarder as ek …

Ek wens ek kon hierdie saam met julle sing:

In my life there’s places I’ve seen,
Places I’ve been in my life.
In my life there’s things I have done,
Times I have won in my life.

Ships I have known,
Winds that have blown.

In my time were people who cared,
People who shared in my time,
Welcomed the good accepted the bad,
Enjoyed what I had in my time.

Ons gaan jou mis, Braam.

Advertisements