Sleutelwoorde

, ,

Laat daar nie van my gesê word dat ek nie deursettingsvermoë het nie… Ek is nie meer my rebelse self wat verplig voel om elke uitdaging wat oor my pad kom op te neem, teen die prikkels te skop en die grensmure om te stoot nie. Maar beloftes maak skuld en skuld is swaar op mens se skouers.

Die tweedelaaste ding waaroor ek skryf nadat ek gevra het, gee my ‘n onderwerp, kom van ButterNut. Nogal ‘n hellere oranje haarself, het sy gevra: Hoekom oranje? Hoekom nie blou of groen nie?

My elkedagse handsak is oranje. Ons gastehuis is oranje geverf, ons webblad is oranje, my hart is soms oranje, maar meestal ‘n sagte pienk. Daarom was ek nie in die minste ontsteld toe ‘n plaaslike ou suurpruim gekla het oor die Ghastly colour schemes of our houses, en een elegante vroutjie een goeie dag kom aanklop het, die woorde – I just want you to know that this is the most horrendous colour I’ve ever seen – uitgespoeg het en met ‘n stywe ruggie weggestap het nie. Die oranje huis is ‘n ware landmerk in ons dorp, aangesien dit meer as 70 jaar gelede gebou is as die dorp se heel eerste winkel en besigheidsgebou. Almal weet waar dit is. Daarom is ons tagline op ons besigheidskaartjie ook THINK ORANGE. As jy kyk na die favicon (daardie piepklein prentjie wat in die tabs bo-aan gebruik word) van ons webblad, is dit die oranje sonnetjie wat ook voorkom op ons logo (kyk in regterkolom).

Oranje werk beslis vir ons! Oranje is is ons handelsmerk, ons brand.

Baie van my klere is oranje. Ek hóú van oranje. Miskien is dit my idee van sonskyn, omdat ek hou van grou weer – Mis, wolke, wind en sagte Kaapse sifreën.

Die afgelope jaar is dit asof my klere meer bedaarde purper en groene word. Miskien verander mense, miskien het ons van tyd tot tyd ander kleure in ons aura nodig. Soms voel ek instinktief behoefte aan ‘n spesifieke kleur, dan dra ek dit. Ek weet nie veel van kleurterapie nie, maar dit moet tog gegrond wees op navorsing daaroor. Warm okers en oranje wakker bv die eetlus aan, en koel bloue, room en wit stem jou rustig om te slaap. Toevallig is my kamer room en dofblou. Rustig.

Gister het ons gaan fliek, en hierdie pragtige lied waarvoor ek baie lief is, was deel van die temamusiek van A song for Marion.

Advertisements