Sleutelwoorde

By Mooiberge buite Stellenbosch ry ons nie sommer verby nie. Daar stop ons vir aarbeie, wyn, droëwors, en dan ‘n paar goed wat ek nêrens anders kry nie. Klapper skaafsels en handgeskilde songedoogde perskes, van Wynand Boerdery. Daardies wat jy middeldeur kan breek, nie die wat met swael behandel is om die skille af te kry nie. Lekker.

*Kort onderbreking om handvol droë perskes te gaan haal*

Ek verkyk my ook telkens aan die ysterbeelde wat daar in lang rye staan om toeriste te lok. Kunstige kêrels wat daar agter sit en timmer, sowaar.

Gister was daar ‘n insident wat my steeds agtervolg. Ek kry dit net nie uit my kop nie. Die winkel was nie baie vol nie, maar skielik het daar ‘n lawaai en gemaal van mense losgebars. Ek het stilletjies teruggetree en bly staan, wou nie nader aan moeilikheid beweeg nie. En daar is dit ‘n lawwe kassier met ‘n rubberslang waarmee sy iemand skrikgemaak het.

*Skud afkeurend kop*

Nietemin toe die lot bedaar, is ek net betyds om te sien hoe ‘n vrou met so gekreukelde geel gesiggie (julle ken mos die hoë wangbene en nou ogies as hulle lag) met twee flentergat dogtertjies in tou ‘n bottel heel goedkoop witwyn koop. Die arme dogtertjies is so verdwaas met die woelinge in die winkel, hulle mis amper die ma wat duidelik haastig is om haar bottel se prop oop te kry. Duidelik kry hulle niks uit die deal nie. Dis toe dat ek dit sien. Op hulle beentjies, wit van stof en skurf, is slaanmerke, soos met ‘n fyn latjie. Ou merke. Instink wou hulle gryp en vir die welsyn gaan gee. Verstand sê los uit, dis die lewe. Hart kon dit nie hou nie, en gryp toe net ‘n paar pakkies chips en die naaste swiets en stop dit in hulle handjies. Toe moes hulle hol, om ma en wyn en prop en huis en honger tegemoet te gaan.

Daardie kinders kom nie uit my kop nie.  Waar kom die ma vandaan, en wat gaan van die kinders word? Wat?

Advertisements