Vroeër jare het vrouetydskrifte subtiel van Ekstase gepraat as hulle eintlik Orgasme bedoel het. My woordeboek beskryf dit as ‘n toestand van abnormale blydskap, vreugde, vervoering, of verrukking. In een van Elsa Joubert se heel eerste boeke, moontlik Suid van die wind, het sy ‘n oomblik van ekstase so goed beskryf, dat ek dit maklik herken het toe ek dit vir die eerste keer op 46 ervaar het. Dis was vandag 11 jaar gelede. ‘n Oomblik wat ek nooit weer sal vergeet nie. ‘n Psigiese orgasme. My eerste Oomblik van Ekstase, die oomblik toe my hart en my siel en my lyf bymekaar gekom het, op dieselfde frekwensie vibreer het. Ek was een met myself.

Ek sou later weer by twee geleentheide so ‘n oomblik ervaar, hoewel nie met dieselfde intensiteit nie, maar vir vandag is hierdie spesifieke een vir my baie kosbaar. Twee keer vantevore het ek amper iets soortgelyks ervaar, maar dit was anders. Dit was toe my pasgebore babas oomblikke na geboorte op my lyf neergelê is. Die wonder van geboorte en ‘n nuwe lewetjie is seker ‘n gevoel wat net iemand wat daardeur is, sal kan begryp.

Ek het al voorheen geskryf hoe dit gebeur het dat ons hier in Kleinmond beland het.

Op 1 September 2002, vandag 11 jaar gelede,  het ons stokflou hier aangekom – ek met my wit strykyster Merc, en MaanMan met sy bakkie en sleepwa, na 18 uur op die pad, met twee getraumatiseerde katte. Dit was ‘n moeilike rit, ek het nog nooit alleen so ver bestuur nie. Ons moes genoeg pak om vir 6 weke te kon ‘uitkamp’ totdat ons trek kom. Met ‘n vorige besoek, het ons darem twee bedjies en ‘n klein yskas gebring.

Dit was traumaties om ons kinders, die familie en my ouers agter te laat, en die onbekende in te vaar. Nogal sonder dat ons weet hoe ons gaan maak om geld in te bring. Om my kop besig te hou, het ek die 1415 km opgedeel in eenhede van 50 km. Dit was maar 29! So kom ek heeltyd sommetjies in my kop maak en dit het my baie gehelp. Net heeltyd MaanMan se agterliggies dopgehou. Dit was vir my makliker om hom te volg as om voor te ry. My susters het heelpad kontak gehou, tot laat in die nag opgebly om my te ondersteun.

By Leeu Gamka was ons die oggend 03:00 bitter moeg en op ‘n manier het ons mekaar verloor. My frantiese oproepe na sy selfoon (Ja, die eenvoudige eerste Nokias kon hy baasraak…) is nie geantwoord nie. Lang storie, kat wat uitglip, en hy wat soek. Ons wat mekaar weer vind. Daar in die donker met net trokdrywers waar jy kyk, het ek besef ons twee is nou op mekaar aangewese. By die volgende Stop/Go was daar ‘n bokkie, sy ogies was vir ‘n oomblik herlder in die lig. Ek was nie seker of ek hom gesien het nie, maar MaanMan het die kode geflits met sy agterliggies en ek het geweet hy was werklik. ‘n Boodskap.

Met dagbreek het ons deur die lieflike Hexrivier gery. Daardie poort was vir my simbolies van die poort na my nuwe lewe. Ons was weer vars, die lug was helder. Deur Worcester het die bruin tannies met vrolike dogtertjies kerk toe gestap. Tog snaaks watter pentjies bly in mens se kop sit. ‘n Klompie stout seuns saamgebondel het my laat dink, ek hoop nie hulle plant spykers vir verbygangers nie. Spyker of nie, you attract what you fear. By Theewaterskloofdam waar ons vir die laaste maal bene gerek het, het ons my kar se pap band gesien. Daardie Mercie was gepák! Ons moes alles uitpak om by die spaarband uit te kom. Die moegheid en lang nag en wonder het sy tol begin eis. MaanMan het op sy tande gebyt en ek wou huil. Maar wat, dit was ‘n avontuur, en ons was net ‘n uur weg van ons nuwe lewe af.

Dit was bewolk en reënerig, presies ‘n dag soos vandag. Die Overberg op sy heel, héél mooiste. Wuiwende donkergroen graanlande, wat golwe gemaak het in die wind. Die een reënboog na die ander het die skoonste, suiwerste kleure gekaats in die venster en in die reendruppels. My gemoed het opgebou, trane het oor my wange gestroom sonder dat ek huil, en my siel het ontplof. In ‘n oomblik van ekstase. Dit was onbeskryflik. Die hele lug was vol reënboë, nooit vantevore, en nooit weer sedertdien het ek so iets beleef nie. En toe was daar die absolute magiese oomblik, waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ons het onderdeur ‘n reënboog gery, ons nuwe lewe in. Op daardie moment het ek geweet ek is besig om my sielspad te loop, dat dit goed is, en reg.

Op 1 September 2002 het ons op hierdie presiese uur wat ek hier tik, reggemaak om te gaan slaap, vir die eerste nag in ons hartsplek. Waar ons wérklik tuis voel vir die eerste keer in ons lewens.

DSCN6908

EDIT – Die volgende dag het ons op die presiese pad gaan ry met die wuiwende graanlande. Ek het hierdie blog daar langs die pad vir MaanMan voorgelees waar ons onbyt gepiekniek het, EEN MINUUT nadat ek vir hom daar by die piekniekplek voorgelees het, neem ek hierdie af, In helder sonskyn. Magic moment.

Roadtrip 042

Advertisements