Sorg jy? Of word jy voor gesorg? Ter wille van dié van julle wat my nie goed ken nie, ek is wat bekend is as ‘n ‘sterk vrou’. Emosioneel, en toe ek jonger was, fisiek ook. Ek kan dit vat! Hetsy verantwoordelikheid, werk, pyn of swaarkry. Maar ongelukkig is dit mos so dat mens altyd vir die hele wêreld en sy broertjie ook verantwoordelik voel… Deesdae het ek darem geleer om te kan Nee sê. Maar dis maar ‘n onlangse ding.

Só baie dae dink ek – Ek wil net vir een week geen, maar géén verantwoordelikhede hê nie. Voor gesorg word, en getroetel word.

Om een of ander rede is ek nie die soort vrou wat getroetel word, of voor gesorg word nie. Ek sorg. Ek neem verantwoordelikheid. Op die minste mede-verantwoordelikheid. Ek doen die admin en die banksake. Die belasting. Die liewe MaanMan, bless his slimme soul, kom nog van die ou skool, waar die sekretaresses (dit was nog voor die tyd wat hulle PA’s genoem was) alles gedoen het. Die base het mos net die besluite en die dinkwerk gedoen.

Maak geen fout nie, MaanMan doen al die swaar werk in ons huis, en hy bring sy kant 200%, maak die tee en pak die skottelgoedwasser uit. Hy is netjies op homself en sy omgewing. Dan kan hy nog intelligente gesprekke voer ook. Kortom, net ‘n plesier om aan my sy te hê. Maar hy sien my as ‘n vennoot, die sterk vrou en mens wat ek is. Tog kan ek nie help om soms te dink ek wil ook partykeer oor niks hoef te dink of te besluit nie.

So ek kom uit daardie moeilike generasie, waar vrouens begin werk het. Emansipasie het ons ‘n raw deal gegee. Dit het ons sterk gemaak. Ons was vrou en werker. Ons moes – en kon ook – alles doen. Maar ai, dit lyk darem soms so lekker as mans so storm om die hulpelose wesens te hulp te snel!

Miskien in ‘n volgende lewe? Maar net kortstondig dink ek.

En jy? Sorg jy? Of word jy voor gesorg?

Advertisements