Sleutelwoorde

,

I want a room of my own … Dit is die versugting van vele vroue oor die wêreld.

As tweede oudste in ‘n groot gesin (boonop met ‘n ouma en oupa in die huis) was ons groot plaashuis nie groot genoeg dat ek ooit die voorreg van ‘n eie kamer gehad het nie. Na skool (Lees hier van my ‘trauma’ om op 16 die lewe te moes in) het dit gebeur, en het ek die weelde van ‘n eie kamer gehad. Ek kan net dink hoe moeilik dit vir my ouers moes wees om hierdie 16-jarige kind by die koshuis af te laai, waar ek verpleegkunde gaan studeer het. My ouers wou bitter graag hê dat ek onderwys gaan studeer, maar nee, ek wou geld verdien terwyl ek studeer. (Die verpleging het na twee jaar nie meer gewerk nie, want toe wou sussie trou, maar dis ‘n heel ander storie.) En ek het darem later op eie stoom geleerd gekom. “Iets om op terug te val” soos mense dit daardie tyd genoem het.)

Deel van die wonder van daardie twee jaar van studentverpleegkundige, was my eie kamer. Ek kon nooit die gesogte groot hoekkamers begryp, waarin goeie vriendinne twee-twee gebly het nie.  Een van die dinge wat ek onthou, is dat twee van my goeie vriendinne wat so ‘n kamer gedeel het se panties so deurmekaar geraak het dat hulle later sommer altwee uit een pantielaai aangetrek het. Wie onthou nog Woolies se panties uit die 70’s met die gekleurde rekkies en die bypassende blommetjie links? Ek was maar ‘n loner en sosiaal het ek nie vreeslik goed gevaar nie. Daar was vir my niks lekkerder as om in my eie kamer te lê en lees nie. Die koshuistannies was maar kwaai, en daar was reëls, maar steeds. Dit was my kamer. Myne.

Nou ja, die lewe werk maar snaaks. Op 18 het sussie weer gejeuk en gaan staan en trou. Vandag is ek bly, want op 21 het ek reeds altwee my kinders gehad en al was ek waarskynlik maar onkundig oor die lewe en as ouer, het my kinders dit blykbaar nie te erg teen my gehou nie, en het ek ek darem so mettertyd met die lewe opgevang.

Die behoefte aan A room of my own was maar altyd daar, maar ons huis was altyd baie gewild onder die kinders en later tieners. Ek is lief vir kinders en dit was goed dat hulle maters kon kom speel. Die swembad en die vol yskas waaruit hulle onbeperk kon eet, het natuurlik ook ‘n rol gespeel. Dit was blykbaar nie so in alle kinders se huise nie. ‘n Liewe vriendin het ek juis so leer ken. Sy het een goeie dag aan die deur geklop en gesê sy wil die vrou agter die yskas ontmoet … Yskas? Ja, toe sy gister haar seun by my dogters kom haal het, het hy haar in die kombuis ingevat en triomfantlik die yskas oopgemaak en gesê sy moet mooi kyk, want so moet ‘n yskas lyk … Nietemin.

Met al die kinders het ek nog minder privaatheid gehad. My ontsnappingsroete was altyd badkamer toe, in die goeie ou dae toe ek nog sonder ‘n bril in die bad kon lê en lees. Een goeie dag net toe ek weer met my toon warm water bygetap het, was daar so tentatiewe kloppie en het die badkamerdeur oopgegaan. Een van die kinders se vriendinne het saggies ingekom, op die toilet kom sit, mooi geglimlag en gesê: “Ek kom sit bietjie by Tannie, dat Tannie nie so alleen is nie … ”

So het die kinders die huis verlaat en het die huis net aan my en MaanMan behoort, maar kort daarna het ons Kaap toe verhuis. En my enigste ruimte wat net myne is, is die kol hier bo in ons studio waar my lessenaar staan. Hier pak ek my seeskatte (klippe en goeters) uit, hang ek my toorgoed op en as dit deurmekaar is, is dit nou maar so. Maar ek sien ek is besig om hierdie ding van A room of my own te ver te vat, want ek stop my ruimtetjie ook vol met nota’s, ‘n boksie swiets, kabels vir foon/kamera/Kindle/Kobo, agterstallige liasseerwerk, ‘n ongeleesde boek, ‘n bottel Tissue salts, nog ‘n klip, ‘n palet vol droë verf (hierdie naweek moet die sklildery klaar!), ‘n boksie papiere, ‘n landsvlaggie, ‘n paar CD’s … Jy kry die prentjie … So as julle sal verskoon, ek het bietjie regpak- en afstofwerk om te doen.

I want a room of my own …

DSCN4594

Hierdie foto is nie vandag geneem nie, daar het so paar dingetjies bygekom

A Room of One’s Own is an extended essay by Virginia Woolf. First published on 24 October 1929, The essay was based on a series of lectures she delivered at Newnham College and Girton College.

The title of the essay comes from Woolf’s conception that, ‘a woman must have money and a room of her own if she is to write fiction’. Woolf notes that women have been kept from writing because of their relative poverty, and financial freedom will bring women the freedom to write; “In the first place, to have a room of her own..was out of the question, unless her parents were exceptionally rich or very noble”. The title also refers to any author’s need for poetic license and the personal liberty to create art.

(Wikipedia)

Advertisements