Sleutelwoorde

,

My heel eerste ‘held’ was Jon Voight. In 1968. Dit is nou as ‘n held die mens is wie se foto jy met sellotape in jou passerblikkie plak. Ek het geen idee gehad wie hy was nie, maar ek het gesien die ander meisies doen dit, en ek wou ook meedoen. (Ek was mos jonger as my maters.) Ek het so ‘n katalogus van plate wat in die pos gekom het gevat, en die mooiste man se prentjie uitgeknip. Ek het nie eers besef dat hy eintlik ‘n akteur is nie, en veel later vir Angelina uit sy lendene sou voortbring.

Ons het onlangs ‘n gesprek gehad oor wie ons moeite sou doen om te ontmoet, en ek het besef dat daar eintlik net twee mense is wie uitstaan in my lewe wat ek al ontmoet het, en vir wie ek moeite gedoen het. Die een was Jan Rabie, en die ander Madiba.

Rondom 1987 was ek saam met my vriendin Santa in Hermanus as deel van ‘n navorsingsprojek vir die RGN, en ek het het vir haar gesê ek gaan hom bel en vra of hy my boek ‘n Boek vir Onrus vir my sou teken. Sy het gereken dit is hopeloos te voor op die wa en absoluut verregaande, maar ek het gereken as ek bel en hy sê nee, dan hoef ek nie die vernedering van ‘n afwysing van aangesig tot aangesig te ervaar nie. Onthou daardie jare was skrywers nie eintlik gewone mense nie … Nie vir ons nie …

En wat doen die man? Hy antwoord die foon, en sê, Natuurlik! Kom 3:15 en kom dink koffie. Julle is welkom! En hy het dit bedoel ook. Toe ons daar kom, was die koffiegoed reggesit, met koekies en al. Hy het vir my sy olyfpersery gewys, sy skelm paadjie see toe. Die seewierselei was gelukkig nog net halfpad gestol, hy was jammer dat dit nie gereed was vir ons om te proe nie. Marjorie het ons haar ateljee gaan wys. Die rame wat Jan vir haar aan die maak was eenkant geskuif. Dit was eers later jare toe ons hier kom woon het, wat ek een van haar skilderye kon koop. Die selfpotret het al haar tradisionele kenmerke ingehad, die gemmmerkat, die pen in die hare, die stoeptafel, die kaarte en die kleure.

Vandat ek ‘n kind in die Afrikaans klas was het ek ‘n vreemde band met Jan Rabie gevoel, en die dag toe ek hom sien, was my asem weggeslaan. Daar was ‘n sielskonneksie. Ek kon aanvoel dat hy dit ook voel, want hy het Santa op Marjorie afgeskuif en my alleen sy olywe en goeters gaan wys. En dit was nie ‘n man-ding, ‘n seksuele tipe pass nie. Dit was net daardie ding wat jy nader aan een mens voel as aan ‘n ander. Ek voel bevoorreg met die wete dat hoewel dit arrogant mag klink, dit waar is. Ons het op ‘n sielsvlak gekonnekteer. Die ouer man, die skrywer, die seerob, die polities uitgesproke mens. Alles wat ek nie was nie. En ja, ek ‘voel’ Jan knik sy goedkeuring met sy skewe kop.

Vir goeie balans het Jan Rabie ook daardie dag aan my gesê: Ek hoop nie jy dink daaraan om ooit te skryf nie, want as jy so hoogdrawend skryf soos wat jy praat… Nou daardie woorde het al baie vir my beteken in my lewe. Ek dink steeds daaraan as ek twyfel oor my woorde.

Dit was een van die heel spesiaalste ervarings van my lewe.

Ek besit hierdie drie boeke van Jan Rabie, maar een van hulle kry more ‘n nuwe baas, waar ek weet hy gelukkiger gaan wees as by my. Dis nog net Kannemeyer se biografie wat kort op my rak …

Advertisements