Kuschke en BXDie mooiste twee ballerinatjies was vandag my inspirasie vir my Jaareind Seursessie.

As kind het ek baie maal beroof van geleenthede gevoel, omdat my persepsie was dat ons baie arm was. Baie dae het ek gedink as ons nie so baie kinders was nie, sou ek baie meer dinge kon kry en doen. My ma moes geweet het hoe ek voel, want sy het my een dag gevra nou watter een van my sustertjies ek dan nie sou wou hê nie? Dit was ‘n hou op die maag, want ek was baie lief vir die kleintjies en het hulle help versorg. Die gevoel het nie heeltemal weggegaan nie, dit het wel konflik daaroor veroorsaak. My ma, wyse vrou wat sy is, het geweet hoe om sensitief te wees oor sulke goed en haar woorde bly my steeds by.

Ons plaaskinders het nie almal toegang tot al die naskoolse aktiwiteite gehad nie agv die vervoerkwessie, maar in my kop het ek gedink my ouers kon ‘n plan maak. Vir skooltake en werk in die biblioteek na skool het hulle wel geen moeite ontsien nie. Ek het nogal ‘n aanleg gehad vir gimnastiek en die LO Onderwyseres (daardie jare was LO Liggaamsoefeninge) het gevra dat ek naskoolse klasse moet bywoon, sy wou graag hê dat ek aansluit by die gimnastiekspan. Die vereistes was die nodige leotard en rompie, maar ook ‘n sweetpak. En net daar het die knoop gelê. Daar was nie geld vir ‘n sweetpak nie, en sonder die sweetpak kon ek nie in die span wees nie. Die gimnastiekklasse na skool was ook twee maal per week, en daar was ‘n vervoerprobleem. Dus was die antwoord kort en kragtig, nee. In my kop het ek toe ‘n visioen begin skep van my ouma en oupa wat aansoek doen vir so ‘n klein vierkantige Munisipale huisie aan die rand van die dorp, dan kon ek by hulle gaan bly, en gimnastiek neem. Ek het selfs die saak met my ouma aangeroer… Don’t ask…

Vandag besef ek dit was maar soos dit was, en dat my ma wat ‘n baie slim en talentvolle vrou is, nog veel minder geleenthede as ek gehad het. Sy was die slimste kind op hoërskool, goed met sport, maar kon nie haar hoërskoolloopbaan klaarmaak nie. Ek kla oor vervoerprobleme, maar my oupa Winnertz het sy kinders uit Botswana oor die Limpopo geroei skool toe, Swartwater toe, en later koshuis toe, Potgietersrus toe. My ma het nietemin met haar talente gewoeker, en ons kinders net die beste opvoeding gegee. Sy het ook later die hoogste moontlike kwalifikasie in Noodhulp behaal, en het Noodhulpklasse gegee. Baie interessant – ‘n Paar jaar gelede het ‘n LitNetblogger geskryf hoe sy ‘n baba se lewe gered het wat ‘n muntstuk in die keel gehad het, omdat sy tannie Anne se Noodhulplesse kon onthou! My ma was baie bly om van die insident te hoor, dat haar klasse toe werklik vir iemand iets beteken het.

Hierdie jaar het ek twee goot lesse geleer:

  1. Ek hoef my geensins te bekommer oor wat ander moontlik oor ‘n situasie mag dink nie. Wat hulle dink, is hulle proses, nie myne nie. En heel moontlik vergis ek my met hulle denke, tot my eie nadeel. Ons het ‘n nabye familielid wat swaarkry weens baie dinge, ook swak keuses, en leef onder moeilike omstandighede. Nietemin het ek geleer dat ‘n mens jou nie skaam vir ander nie. Ander mense loop hulle lewenspad soos hulle moet, en hulle is daar sodat ons van mekaar kan leer. Toe hierdie besef kom dat ek nie daardie persoon se keuses kan maak nie, ook nie die lewensomstandighede kan verander nie, kon ek op ander maniere help as om net finansieel by te dra. Om iemand se menswees te erken, beteken ook dat jy hulle menswaardigheid gun. Ek is ‘n paar mense baie dank verskuldig wat gehelp het om my by hierdie punt te bring. Ek twyfel of hulle hier gaan lees, maar die Universe hoor my dank.
  2. Die ander ding wat ek hierdie jaar geleer het, is om die proses te vertrou, dat dinge om ‘n rede gebeur, en dat dit altyd op die regte tyd gebeur. My oog-storie was maar net een voorbeeld daarvan. Soos wat my gimnastiek wat ek nie kon neem nie, sou wees. Hoe weet ek wat die werklike rede was? Hoe weet ek hoe anders sou my lewe wees as ek daarmee kon aangaan? Ek weet nie, maar ek weet en vertrou nou die proses, dat dinge presies uitwerk soos dit moet.

“The truth is, unless you let go, unless you forgive yourself, unless you forgive the situation, unless you realize that the situation is over, you cannot move forward.”
― Steve Maraboli, Unapologetically You: Reflections on Life and the Human Experience

(Hierdie foto het my kinders van my geneem iewers in die middel 80’s, toe ek rondom dertig was)

Trisa Gym

Advertisements