Is ons besig om ons oumas en oupas te word, wat baie myle skool toe gestap het, en in bolle stomende beesmis getrap het om kaal wintersvoete wat deur ryp knars, warm te kry?

Ek kom agter dat nostalgie mense se oordeel soms kleur – As iemand so nostalgies raak oor ‘n kerse op plase weet ek sommer hulle het nie daarmee grootgeword nie. Dieselfde as hulle ‘n kleinhuisie ‘n longdrop noem en nostalgies saampraat, dan kan jy maar weet hulle het dit dalk net as ‘n aardigheid op ‘n ouma se plaas beleef.  

Die oumense het nog gefrons oor wangedrag, en hulle het dikwels ‘n onderwyser se woord bo die van hulle kinders gestel. Daar was geensins hierdie ding van onvoorwaardelike aanvaarding van kinders wat maar kan aanjaag soos hulle wil, en die ouers dreig die hele mensdom met die hoogste howe nie. Kinders moes hulle plek ken.

Daar is die afgelope tyd so baie gepraat oor lyfstraf dat ek dit nie eers gaan noem nie, behalwe dat ek dankbaar is dat kinders hopelik beter beskerm is daarteen deesdae.

Watter geslag is nou eintlik beter af?  My ma se geslag wat jong dames was met styl? Kyk maar na hulle foto’s, die jong meisies van die 40’s en 50’s. Hulle lyk almal soos modelle, ten spyte van skaartes na WW11. My oorle’ ouma sou die jeug van die dag as sloeries beskryf het! As ek net kyk na my eie kleredrag, weet ek my ma as jong vrou lyk mooier, maar ek trek vinniger aan en is gemakliker met FitFlops plek van peep-toes met hoë hakke.

So het elke geslag sy dinamika, en dis vir my lekker om terug te kyk. En te waak daarteen om die Goeie Ou Dae te verromantiseer. 

Anders word ek dalk my ouma…

(Foto’s van my ma)

Advertisements